Só verskil Mej. Heelal en Mej. Wêreld

Demi-Leigh Nel-Peters (Foto: Facebook via Miss Universe)

Die getal Mej. Wêreld- en Mej. Heelal-krone wat al deur Suid-Afrikaanse vroue huis toe gebring is, getuig daarvan dat Suid-Afrika kan spog met van die mooiste en mees dinamiese vroue ter wêreld.

In 1958 het Penny Coelen die eerste Suid-Afrikaanse vrou geword om ʼn internasionale skoonheidskompetisie te wen toe sy met die Mej. Wêreld-kroon weggestap het. Daarna het Anneline Kriel in 1974 as wenner geseëvier en Rolene Strauss het in 2014 dié gesogte kroon gedra.

Die Mej. Heelal-kroon het ook in dié kompetisie se 66 jaar oue geskiedenis aan twee Suid-Afrikaanse skoonhede behoort. In 1978 het Margaret Gardiner met die louere weggestap en in November vanjaar is Demi-Leigh Nel-Peters met dié titel bekroon.

Vanjaar het 91 vroue van lande oor die wêreld saam met Nel-Peters in Las Vegas in die VSA om die kroon van Mej. Heelal meegeding terwyl 118 vroue in Sanya, China, byeengekom het vir die Mej. Wêreld-kompetisie. Manushi Chhillar van Indië is in November vanjaar tydens dié geleentheid as Mej. Wêreld gekroon.

Hoewel albei krone ewe gesog is, is daar wesenlike verskille tussen die twee skoonheidskompetisies.

Claudia Henkel, voormalige Mej. Suid-Afrika en skakelbeampte vir dié skoonheidskompetisie en Sun International, het aan Maroela Media gesê daar is ʼn beduidende verskil wat die verantwoordelikhede van die wenner betref en wat die bestuur en beoordelaars van die wenner verwag.

Mej. Wêreld 2014 Rolene Strauss Foto: MissWorld.com

Waarna soek die beoordelaars?

Volgens Henkel is die Mej. Heelal-kompetisie, wat Nel-Peters gewen het, ʼn meer glansryke geleentheid. Die bestuur en beoordelaars soek na ʼn meer glansryke vrou in ʼn wenner. “Sy moenie net beeldskoon wees nie maar ook sexy, aangesien daar nog ʼn bikini-afdeling by dié uitdunrondes tydens die kompetisie ingesluit is,” sê sy.

“Die Mej. Heelal-kompetisie is voorheen besit deur Donald Trump, huidige president van die VSA. Hy het dit aan die modelagentskap WME/IMG verkoop. Omdat WME/IMG ʼn modelagentskap is, wil hulle graag ʼn vrou as wenner kies wat ook kommersieel sterk aanklank sal vind by die publiek.”

Die wenner van die Mej. Heelal-kompetisie reis die wêreld plat met die doel om hoofsaaklik geld in te samel vir die liefdadigheidsorganisasie Operation Smile. Dié internasionale organisasie spits hom daarop toe om kinders wat met gesplete verhemeltes gebore word te help, en bewustheid rakende dié kwessie te skep.

“Elke geleentheid wat die wenner bywoon, is spesifiek en slegs daargestel om verdere bewustheid van die organisasie te skep en geld daarvoor in te samel,” sê Henkel. “Sy woon ook glansryke geleenthede soos die Oscar- en Grammy-toekennings by.”

Daarteenoor is die verantwoordelikhede, soos om geleenthede by te woon as Mej. Wêreld-wenner, meer statig en nie noodwendig heeltemal so glansryk soos Mej. Heelal se verantwoordelikhede nie.

“Die Mej. Wêreld-beoordelaars en die president en eienaar van die kompetisie, Julia Morley, verkies ʼn meer statige vrou wat elegansie en fiksheid versinnebeeld. Dié kompetisie het ook die bikini-afdeling in die kompetisie uitgeskakel en het weer ʼn sport- en talentronde wat die Mej. Heelal-kompetisie nie insluit nie.”

Henkel verduidelik dit is belangrik dat ʼn Mej. Wêreld-wenner, soos Rolene Strauss, haar goed kan uitdruk in toesprake én fiksheid en gesondheid vergestalt.

Sy benadruk ook die hoofdoel van die Mej. Wêreld-wenner is om die leuse van dié kompetisie, Beauty with a purpose, uit te leef deur bewustheid te skep van verskeie liefdadigheidsorganisasies wêreldwyd.

Deelnemers aan die Mej. Heelal-kompetisie kom reeds twee weke voor die kroningsgeleentheid  byeen. “Daar word egter geen beoordeling vooraf gedoen nie.”

Deelnemers aan die Mej. Wêreld-kompetisie moet hulle ʼn maand voor die kroningsgeleentheid reeds aanmeld om met verskeie aktiwiteite vooraf beoordeel te word in rondes soos fiksheid, modelwerk en openbare gesprekvoering.

Manushi Chhillar is November vanjaar as mej. Wêreld gekroon (Foto: Twitter)

Aan watter een neem Mej. SA deel?

Henkel sê hoewel ʼn Mej. SA toegelaat word om aan albei kompetisies deel te neem indien logistiek dit toelaat, gebeur dit meermale dat die twee geleenthede oorvleuel.

“Die meisies het gewoonlik reeds vooraf ʼn idee van watter een van die twee hulle eerder aan sal wil deelneem en dan word die besluit geneem saam met die bestuur van die Mej. SA-kompetisie,” verduidelik Henkel. “Daar is ʼn hele paar faktore wat in ag geneem word met die besluit soos die meisie se algehele voorkoms asook haar persoonlikheid.”

Wat wen sy?

Volgens Henkel word daar van die gekose Mej. Heelal verwag om ʼn jaar lank in ʼn dakwoonstel in New York in die VSA te woon terwyl sy haar verantwoordelikhede wêreldwyd nakom. Haar lewenskoste word gedek en sy kry ook verteenwoordiging deur die internasionale modelagentskap WME/IMG.

Volgens Times Now News ontvang die Mej. Wêreld-kroondraer ʼn kontantprys waarvan die presiese bedrag nie bekendgemaak word nie. Buiten die geld ontvang sy ook talle borgskappe vir onder meer juwele, kostuums en ontwerpersuitrustings deur die borge van die kompetisie. Sy ontvang ook ʼn reistoelaag en verdien geld wanneer sy geleenthede bywoon om geld in te samel vir liefdadigheid. Sy kry ook borgskappe vir ʼn jaar vir onder meer velsorgprodukte en ander maatskappye wat die Mej. Wêreld-kompetisie borg.

Die top-10 in die mej. Wêreld-kompetisie (Foto: Twitter)

Tel die publiek se stemme?

Die openbarestem-platform is sowat twee jaar gelede ingestel en speel ʼn baie belangrike rol in die keuse van die beoordelaars. “Die finale keuse berus geheel en al by die beoordelaars, maar dit is vir hulle belangrik dat die publiek ook van die wenner hou,” sê Henkel.

“Die publiek se stemme dra beslis by tot die algehele telling en daarom het die Mej. SA-kompetisie ook besluit om dié element by die kompetisie te voeg.”

Meer besonderhede hieroor sal later volg. Dié kompetisie verwag ʼn rekordtal inskrywings vir 2018 ná Nel-Peters se kroning.

Terwyl Nel-Peters internasionaal rondrits, neem haar eerste prinses, Adé van Heerden, haar rol as Mej. SA oor. Van Heerden is op 30 November as Mej. SA ingehuldig.

“2017 was ʼn uitsonderlike jaar vir die Mej. SA-handelsmerk en volgende jaar beloof om ewe opwindend te wees. Ons is verheug oor wat ons die afgelope drie jaar bereik het. Die span agter Mej. SA is nou meer as ooit passievol, gemotiveerd en gretig om 2018 aan te pak,” het Henkel vroeër aan Maroela Media gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.