Spaar só vir ʼn beter toekoms

geld-spaar-finansies-berekeninge

Dit is juis nou nog belangriker om te kyk na innoverende maniere om jou geld te spaar en te laat groei. Foto: Jarmoluk/Pixabay.com

Suid-Afrikaners is berug daarvoor dat hulle baie min spaar. Die huishoudelike besparingskoers waarteen plaaslike huishoudings in die laaste kwartaal van 2017 gespaar het, was slegs 0,2%.

Yolande Naudé, hoof van fondsnavorsing en portefeuljebestuurder by die beleggingsmaatskappy Citadel, sê dit is een van talle strukturele probleme in die plaaslike ekonomie. Ander probleme wat struikelblokke vir Suid-Afrika se ekonomiese groeipotensiaal is, sluit die swak onderwysstelsel, beperkinge op medium- en kleinsakeondernemings, swakhede by staatbeheerde ondermenings en die moeilike omstandighede waarin sake in Suid-Afrika gedoen word, in.

“Alhoewel die besparingskoers ʼn verbetering op die afgelope drie jaar was, is dit steeds ver onder die vlak wat benodig word om hoër beleggingsbesteding te ondersteun. Dit vergelyk ook sleg met ander ontluikende markte sowel as ontwikkelde lande.

“Suid-Korea het byvoorbeeld ʼn huishoudelike spaarkoers van 8,8%, Mexiko is 20,6%, die VSA is 2,8% en Euro-lande is 12,2% en die Verenigde Koninkryke is 5,3%.

“Dit is spaargeld wat die kapitaal vir beleggingsbesteding skep en sonder belegging sal ʼn ekonomie nie nuwe kapasiteit skep en infrastruktuur vir toekomstige groeipotensiaal bou nie.”

Suid-Afrikaners sal natuurlik dadelik terugkap en vra hoe huishouding meer moet spaar in die lig van die verhoging in BTW, brandstof en stygende inflasie. Ester Ochse, ʼn beleggingsprodukspesialis van FNB, sê dit is waar ʼn mens moet spaar.

“Ons moet verseker dat ons genoeg spaar vir die toekoms. Besparing en beleggings het ʼn belangrike aspek van ons lewens geword. Meer as voorheen moet ons kyk na innoverende maniere om ons geld te laat groei.”

Ochse stel die volgende stappe voor wat jou kan help met om met jou spaarreis te begin:

1. Spaarplan

Hierdie aanvanklike stap is die belangrikste stap in die proses. Jy moet beplan, verstaan en kies waarvoor jy wil spaar. Dalk is dit vir ʼn geskenk, ʼn nuwe sonbril of langtermyndoelwitte soos onderwys of aftrede. Jou spaarplan sal jou bloudruk wees om jou spaarreis te begin.

2. Begroting

Daar is niks erger as om nie kontant byderhand te hê nie, veral in ʼn noodgeval. Maak seker jy het ʼn bygewerkte begroting wat jou daaglikse en deurlopende uitgawes duidelik uiteensit. Hierdie begroting moet maandeliks bygewerk word.

3. Doelwitte

Maak seker jou kort- en langtermyndoelwitte is duidelik gedefinieer. Dit help jou om jou prioriteite te identifiseer en te onderskei tussen behoeftes, begeertes en verantwoordelikhede.

4. Navorsing en uitvoering

So jy het beplan en begroot, nou moet jy besluit waar jy die geld wil belê sodat dit kan groei. Kyk veral na die rentekoerse wat op spaar- en beleggingsprodukte aangebied word. Indien jy vir ʼn langtermyndoelwit spaar, kan jy ʼn vennootskap aangaan met ʼn beleggingsbestuurder wat jou sal help om die beste opbrengste op jou spaargeld te kry.

5. Oorsig

Monitor en maak seker dat jy aan jou spaardoelwitte voldoen. Dit is ʼn belangrike stap, aangesien ʼn mens maklik van jou doelwitte vergeet en meer spandeer as wat jy moet.

“Daar is geen beter tyd as nou om te begin spaar nie, dus neem die stap en maak spaargeld ʼn prioriteit in jou lewe,” sê Ochse.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

9 Kommentare

jongste oudste gewildste
honourable member

Soos dit nou in hierdie land gaan, gaan jy wat spaar vir die wat niks het moet bydrae.

liz

Whaaaa!!!!! watse toekoms…….

Skepties

Spaar in fondse wat die kommuniste gaan afvat? Nee spaar eerder oorsee of bele in VF+ se idee vir selfbeskikking.

Potties

As ek nou moet begin spaar sal dit nog slegter gaan by ons huis geld is min……

gatiep

Jy kan geen toekoms beplan in die land nie.
As hulle jou huis wil afvat kan hulle jou geld ook afvat in banke.
Die wereldbank het klaar gese hulle ondersteun die grondgrype in SA