Gebede bring nuwe hoop vir bomslagoffers

Foto verskaf deur Geopende Deure

Die verhaal van Debbie, ’n sesjarige meisie van Sri Lanka, en haar 24-jarige tannie, Rebekah, wys dat die krag van gebed nooit onderskat moet word nie.

Debbie en Rebekah is albei baie ernstig beseer tydens die Paassondag-bomaanvalle in Sri Lanka in April 2019. Dit het in totaal 350 lewens geëis en talle beseer gelaat. Danksy die gebede van hul wêreldwye familie in Christus kon hulle egter uit die trauma opstaan en sing hulle vandag liedere van hoop.

Debbie het haar sig verloor en verskeie ander ernstige beserings opgedoen toe ’n bom in die Zion-kerk in Batticaloa, Sri Lanka, ontplof het. Sy was vir twee maande in die hospitaal se waakeenheid voordat sy kon huis toe gaan.

Sy het beide haar ouers en haar neef in die aanval verloor. Danksy haar geloof in Jesus en die gebede van ander Christene, het sy egter nie haar hoop verloor nie. “Ek sien nou net skaduwees, maar God sal eendag die gebruik van my oë vir my teruggee,” vertel sy.

Vir die eerste paar maande ná die aanval kon Debbie glad nie loop nie en sy moes weer van voor af leer loop. Sy het aanvanklik op haar ouer broer, Rufus, en haar ouma staatgemaak om haar rond te dra. Deur plaaslike vennote het Geopende Deure Debbie se familie in September verlede jaar besoek om saam met hulle te bid en hulle te bemoedig.

Vandag is Debbie terug op haar voete, en dans en sing sy met oorgawe om haar vreugde te wys. Sy gebruik haar herwonne beweging om haar liefde en dankbaarheid teenoor die Here te betuig. Sy het ook intussen met haar skoolopvoeding begin.

Oë op die hemel

Foto verskaf deur Geopende Deure

“Debbie is die vreugde in ons lewens,” sê haar ouer susters. “Wanneer ons huil, sê sy ons moenie huil nie omdat ons geliefdes in die hemel is.”

Rebekah was saam met Debbie in die kerk toe die bom ontplof het. “Ek onthou nie veel van die noodlottige dag nie. Ek was in die boekwinkel en die selfmoordbomaanvaller het reg buite die deur gestaan toe hy die bom geaktiveer het. Al wat ek onthou, is dat daar oral vlamme was,” vertel sy.

Rebekah dra vandag nog die brand se geestelike en liggaamlike letsels. Haar hele linkerkant is met derdegraadse brandwonde bedek. Sy het ’n groot kaal kol bo-op haar kop waar die hare weggebrand het en haar geskende kopvel ontbloot word.

Getuienis van hoop

Foto verskaf deur Geopende Deure

Die ontploffing het Rebekah se lewe vir altyd verander, maar sy het nie hoop verloor nie en haar geloof is onwrikbaar. “Al wat ek nou wil doen, is om te getuig oor wat met ons gebeur het en wie Jesus is. Ek fokus nou daarop om oor God se liefde te getuig,” sê sy.

Rebekah se verhaal is beslis ’n getuienis van die krag van God se liefde om vervolging en tragedie te oorkom. Beide haar en Debbie se hoop word lewendig gehou deur die gebede en ondersteuning van hul oorlewende familielede, hul kerk en hul wêreldwye Geopende Deure-familie.

Danksy jou gebede en ondersteuning staan Geopende Deure by die families wat deur die Paassondag-bomaanvalle geraak is. Ons span bemoedig hulle en bid vir hulle, en help families soos dié van Rebekah en Debbie op elke praktiese manier moontlik.

Bid asseblief saam met ons vir hierdie moedige Christenfamilie terwyl hulle by die “nuwe normaal” van hul lewens aanpas. Bid vir fisiese en emosionele genesing vir beide Debbie en Rebekah, asook hul ander familielede. Bid vir voorsiening en dat hulle vertroos, bemoedig en bemagtig sal word om te getuig oor wie Jesus is.

Sluit vandag by Geopende Deure aan in gebed vir ons vervolgde familie. Word ’n gebedsvennoot deur in te teken op ons GRATIS Geopende Deure Nuusbrief en gebedskalender. Klik hier om ’n gebedsvennoot te word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.