Gedagte vir die dag: Christus triomfeer

(Foto: Yannick Pulver/Unsplash)

“Die septer sal nie van Juda wyk nie, ook nie die heerserstaf tussen sy voete nie, totdat hy aan wie dit behoort, kom, en volke aan hom gehoorsaam is.’” (Genesis 49:10).

Skrifgedeelte
“Juda, jy, jou broers sal jou prys! Jou hand sal op die nek van jou vyande wees; die seuns van jou vader sal diep voor jou buig. ʼn Leeuwelpie is Juda; van die prooi, my seun, het jy opgestaan. Hy sak af, gaan lê soos ‘n leeu, soos ‘n leeuwyfie. Wie sal hom opjaag? Die septer sal nie van Juda wyk nie, ook nie die heerserstaf tussen sy voete nie, totdat hy aan wie dit behoort, kom, en volke aan hom gehoorsaam is. Aan ʼn wingerdstok maak hy sy donkiehings vas, aan ʼn edeldruif die vul van sy donkiemerrie. Hy was sy bokleed in wyn, en sy klere in die sap van druiwe. Die oë is donkerder as wyn, die tande witter as melk” (Genesis 49:8-12, 2020-vertaling).

Oordenking
God laat Jakob van sy sterfbed af die toekoms van elke seun van hom sien. Hy stel die bestemming van die stamme van Israel in die vooruitsig en lê dit in sy woorde vas.

Daar is baie hartseer oor wat in die verlede deur sommige van die seuns gedoen is en met hulle gebeur het. Oor Juda is daar vreugde. Jakob sê aan Juda die eersgeboortereg toe en sy broers sal hom hiervoor erken. Hy word gesien as ʼn jong leeu in sy krag, een wat nie maklik versteur kan word nie. “Die septer sal van Juda nie wyk nie, nog die veldheerstaf tussen sy voete.” Hy sal heers.

Op hierdie manier kom die beloftes wat aan die mens in die tuin van Eden toegesê is na sy sondeval, op Juda oorgedra. Ook dié aan Abraham: “In jou sal al die geslagte van die aarde geseën wees.” Die hoogtepunt in die seën oor Juda is die plek wat Silo in die voorsegging inneem. Silo is ʼn aanduiding van die Messias. In Hom word die seën van Juda vervul. Jesus Christus is die leeu uit die stam van Juda (Openb. 5:5). Dit is Hy wat die oorwinning oor die duiwel, die sonde en die dood behaal het. Deur sy dood en opstanding bring Hy ons oor in die koninkryk van God. Ons lewe onder sy heerskappy van genade nou en vir altyd. Ons verwag ʼn ryk van volheid. Voor Hom sal ons buig in dankbaarheid vir sy liefde en met blydskap doen wat Hy ons beveel.

In ʼn wêreld wat flenters is van haat en geweld is dit die roeping van elke gelowige om met sy hele lewenswyse aan die liefde van Jesus Christus, ons Koning, gestalte te gee en dit aan die mens in sy ellende uit te deel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Sê maar net ·

Halleluja en eer, aan die Here van alle heersers; aan die Koning van alle konings. Amen!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.