Gedagte vir die dag: Die Here gee ons krag deur die Heilige Gees

Argieffoto (Foto: Jalen Hueser/Unsplash)

“Dat Hy aan julle mag gee na die rykdom van sy heerlikheid om met krag versterk te word deur sy Gees in die innerlike mens” (Efesiërs 3:16).

Skrifgedeelte
Efesiërs 3:14-21

Oordenking
Dit is wonderlik om te weet dat ons wat in die Here Jesus Christus glo, alreeds die krag het waarvan Paulus in vers 16 praat. Paulus skryf in ons teksvers aan die gemeentes in Klein-Asië. Dit was ’n groep mense waarvan Paulus al gehoor het, maar wat hy nog nie besoek het nie. Dié brief is bedoel as ’n omsendbrief aan die gemeentes in Klein-Asië. Hy weet daarom nie presies of hulle werklik in die Here glo en of hulle maar net skyngelowiges is nie. Vanuit hierdie konteks is die woorde van Paulus in vers 16 verstaanbaar. Sy gebed is dat die Here deur die Heilige Gees in die harte van die mense moet werk sodat hulle kan glo. Ons as gelowiges het egter alreeds die krag van die Heilige Gees wat in ons harte werk. Omdat die Here ons uitverkies het, werk die Heilige Gees elke dag in die hart van die gelowiges. Ons moet egter goed onthou dat ons nog nie volmaak is nie. Daarom moet ons elke dag bid sodat die Heilige Gees ons kan herinner aan die genade wat ons deur Jesus Christus ontvang het. Dit is dan ook juis vanuit hierdie gedagte wat ons die krag kry om elke dag vir die Here te leef. Onthou daarom vandag om die Here te vra om ons te laat begryp hoe wyd en ver en hoog en diep die liefde van Christus strek. Leef dan vanuit hierdie gedagte deur, in alles wat jy doen, die Here se Naam groot te maak.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.