Gedagte vir die dag: Jy is die Here s’n

Psalm 100:3 – Jubel dit uit dat die Here die enigste God is. Die Here het ons gemaak. Elkeen van ons behoort aan Hom: ons is Syne. Ons leef elke dag uit sy hand. Die Here sorg vir ons net soos ʼn skaapwagter sy skape versorg. Ons kan nie sonder die Here se goedheid klaarkom nie.

As jy in enige kruidenierswinkel deur hulle rakke stap, sien jy produkte wat goedkoop is, soos sekere blikkieskos wat dalk R5 per item kos. In ander rakke gaan jy van die duurder sjampoes kry wat dalk R100 kos. By de elektroniese ware gaan jy weer baie produkte kry wat meer as R500 kos. Dis hoe mense ook baie keer deur die lewe gaan – hulle wonder die hele tyd oor hulle waarde. Sommige mense voel geweldig minderwaardig, om verskeie redes. Sekere mense oorskat weer hulle waarde omdat hulle doodgewoon hoogmoedig is en kyk neer op ander mense wat nie heeltemal voldoen aan hulle klas of standaard nie. Elke mens is baie “duur” en waardevol: God het elke mens gemaak. God sorg elke dag vir elke mens. Die kruis was vir elke mens en maak elke mens daarom “duur” en waardevol. Jy mag nie minderwaardig voel nie. Jy mag nie neerkyk op iemand anders nie. Elke mens is deur God gemaak en behoort aan Hom.

Mens, jy is meer werd as jou geld. Jou waarde is nie te meet of te weeg in terme van geld en goed nie. Die essensiële dinge van die lewe is gratis; hulle word sommer vir jou gegee. – Phil Bosmans

Gebed: Here, dankie dat U my gemaak het en elke dag vir my sorg. Dankie dat die kruis vir my was en dat ek daarom waardevol is.

Bron: Christelike Uitgewersmaatskappy

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.