Gedagte vir die dag: Lig en sag

Argieffoto (Foto: Jasmin Ne/Unsplash)

“Neem my juk op julle en leer van My, want Ek is sagmoedig en nederig van hart, en julle sal rus vind vir julle siele; want my juk is sag en my las is lig” (Matteus 11:29-30).

Skrifgedeelte
Matteus 11:29-30

Oordenking
In sy boek Soundtracks skryf Jon Acuff hoe die meeste van ons beheer word deur negatiewe “musiek” wat voortdurend deur ons gedagtes gespeel word. Amper soos ʼn CD wat vasgehaak het. Hierdie “musiek” maak ons moedeloos en laat ons oortuig voel dat ons ʼn armlengte van onafwendbare mislukking af is. Jon het hierdie “musiek” vir baie jare geglo en daarvolgens geleef. Sy “musiek” het gesê sy werk as skrywer was tydrowend, met groot koste daaraan verbonde. Wanneer hy dan gaan sit het om te skryf, het hy soos ʼn martelaar en slagoffer gevoel. Totdat hy die “musiek” vervang het met ʼn nuwe lied waarvan die woorde “lig en sag” was. Hy sou hierdie woorde – lig en sag – vir homself herhaal wanneer hy gaan sit het om te werk, en dit het sy taak in ʼn vreugde omskep.

Die bonus is dat ons hierdie “lig en sag”-klankbaan in elke area van ons lewe kan speel, want dit is die lewe waartoe Jesus ons nooi. Dit is nie te sê die lewe sal altyd lig en sag wees nie. Soms is die pad gevaarlik en bedrieglik en dra ons swaar aan verantwoordelikhede en hartseer. Maar, wanneer ons Jesus vertrou om ons laste te help dra en aan Hom vashou wanneer die pad steil en glad word, kan ons met groter vryheid en sorgvryheid deur ons dae kom in die wete dat Hy altyd by ons is.

  • Hierdie oordenking verskyn in Leef vry deur Dalene Reyburn. Dit word goedgunstig deur die Christelike Uitgewersmaatskappy/CUM verskaf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.