Gedagte vir die dag: Lyding herinner ons aan ons komende blydskap

sonsondergang_wolke_son_stiltetyd_pixabay.jpg

Argieffoto (Foto: Pixabay)

“Wees liewer bly hoe meer julle in die lyding van Christus deel, want dan sal julle ook oorloop van vreugde by sy wederkoms in heerlikheid” (1 Petrus 4:13).

Skrifgedeelte
1 Petrus 4:7-19

Oordenking
Die apostel Petrus skryf aan gelowiges wat onder die vervolging van die wêreld werklik swaar gely het. Hy bemoedig hulle om bly te wees oor hierdie lyding. Daar kan net een motivering hiervoor wees: as ʼn gelowige ly, het hy of sy aan die lyding van Christus gemeenskap.

Hoe kan ʼn mens ooit aan die onuitspreekbare lyding van Christus deel hê? Hierdie gemeenskap aan Christus se lyding beteken nie dat ons ook God se straf moet dra nie, inteendeel, ons ly as God se kinders wie se straf klaar gedra is. Ons behoort aan Christus en daarom haat die wêreld ons net soos hulle ook ons Meester haat. So kry ons dan deel aan die lyding van Christus deurdat ons as sy eiendom ook in die wêreld moet ly vir die geregtigheid.

Hoe swaarder die lyding egter word, hoe duideliker wink die komende blydskap. Hoe duideliker die komende blydskap teen my lyding afgeëts word, hoe meer groei ek om selfs bly te wees in my lyding. Dink net hoe soet hierdie komende blydskap gaan wees as ons op aarde daarvoor moes ly. Dink net hoe word die wêreld en die ryk van die duisternis beskaam as gelowiges bly is as hulle deel het aan Christus se lyding. Die kerkgeskiedenis getuig ook daarvan.

Daarom is ʼn gelowige se lyding nie ʼn saak van hartseer nie, ons lyding herinner ons dat ons werklik aan Christus behoort en daarom ook aan sy heerlikheid en blydskap deel sal hê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.