Gedagte vir die dag: Sien God raak anderkant groepsdruk

Argieffoto (Foto: Kazuend/Unsplash)

“Die gemeenskap het gedreig om hulle met klippe dood te gooi. Die Israeliete het toe bewus geword van die Here se magtige teenwoordigheid by die tabernakel” (Numeri 14:10).

Skrifgedeelte
Numeri 14:10

Oordenking
Die meeste mense swig onder groepsdruk. Volgens navorsing sal mense 80% van die tyd inval by die meerderheidsopinie – selfs al weet hulle dit is verkeerd. Mense wil nie graag teen die stroom gaan nie. Tog is dit juis daardie groepie stroom-op swemmers wat ʼn verskil maak, ook op God se terrein.

Dink maar aan Josua en Kaleb in Numeri 13-14. Hulle het pas saam met tien ander verspieders teruggekeer uit die Beloofde Land waarheen Israel op pad was. Die meerderheidsverslag van die ander tien manne was verdoemend: moeilikheid wag vorentoe. Die volk wou selfs teruggaan Egipte toe. Groepsdruk het almal laat swig, almal behalwe Josua, Kaleb en Moses. As dit nie vir God se ingrype en vir hierdie manne se dapperheid daardie dag was nie, was alles daarmee heen. Dan was Israel gister se ou nuus.

Ligloop vir groepsdruk. Moenie saam met almal skree: “Dit is klaar met ons!” nie. Of saam met rommel en dooie visse stroom-af dryf nie. Hou jou oog op die Here. Volg Hom. Hy is altyd die Meerderheid. Hy is elke keer die oormag van een. Moenie dat ander se hopeloosheid die bril word waardeur jy na die lewe kyk nie.

  • Hierdie oordenking verskyn in ʼn Veilige vesting deur Stephan Joubert. Dit word goedgunstiglik deur die Christelike Uitgewersmaatskappy/CUM verskaf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.