Gedagte vir die dag: Sout wat verslaan het

soutMatt 5:13 – “Julle is die sout vir die aarde. Maar as sout verslaan het, hoe kry ’n mens dit weer sout? Dit is niks meer werd nie. Dit word buitekant weggegooi, en die mense vertrap dit.”.

Die gedagte dat sout kan verslaan of “laf” word, soos die 1953-vertaling sê, is dalk vir ons vreemd. In Israel was daar soutblokke wat amper soos rotse uit die grond gesteek het. Dit was nie altyd suiwer sout nie, maar soms vermeng met ander stowwe wat dieselfde wit kleur gehad het. Oor die jare heen het die sout wat in hierdie rotse was, opgelos sodat net die gedeelte wat soos die sout gelýk het, oorgebly het. Dit was waarskynlik na hierdie “sout” dat Jesus verwys het.

Hierdie beeld is ongelukkig ook van toepassing op baie Christene – mense wat die naam “Christen” dra, wat as Christene beskou word, maar wat nie die “sout”-eienskap van Christus het nie. Dit is moeilik om te raai hoeveel van die ongeveer 80% “Christene” in Suid-Afrika in hierdie kategorie val.

Jesus gebruik ook ʼn ander uitdrukking om hierdie soort Christene in die brief aan die gemeente van Sardis te beskryf: “Ek weet dat julle die naam het dat julle lewe, en tog is julle dood” (Op. 3:1).

Die vraag wat vandag tot ons elkeen kom, is: Beïnvloed ek ander met die lewe en liefde van Christus, of word ek deur die Bose beïnvloed? “As sout verslaan het …” Jy sien, dis al waarvoor sout goed is: om sout te wees. As dit nie doen waarvoor dit gemaak is nie, is dit nutteloos. Dis soos ʼn mooi mes wat nie kan sny nie, of soos ʼn mooi lamp wat nie kan brand nie – dit word bloot ’n ornament. God soek egter nie ornamente nie; Hy soek instrumente. Hy soek lampe wat kan brand en sout wat “sout” is.

Gebed: “Here, maak my iemand wat in u hand regtig ’n instrument kan wees, sodat U my kan gebruik. Amen.”

Outeur: Dr. Isak Burger: President van AGS van SA

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.