Gedagte vir die dag: Wees ʼn genadige vriend

Argieffoto (Foto: Helena Lopes/Unsplash)

“Verdra mekaar en as enigeen ʼn klagte teen iemand anders het, vergewe mekaar. Vergewe mekaar soos die Here julle vergewe het” (Kolossense 3:13).

Skrifgedeelte
Kolossense 3:13

Oordenking
Ek was stokflou ná die preek op dié Kersoggend. Ons het pas by my skoonma aangekom waar die res van die familie ook bymekaar was. Nog voordat ek haar kon groet, kom wens haar bure se seun ons ʼn geseënde Kersfees toe. Hy roep my boonop “Dominee”. Hier is die ding, ek is nie mal oor hierdie titel nie. (Dit kom van die Latynse dominus af wat “heer” beteken.) Ek was nie te vriendelik terug nie, maar ek vergeet toe hiervan. Tot so drie weke later toe ek in ʼn ander stad moes preek waar hulle woonagtig is. Daar staan die vriendelike man weer en hy kom vra my om verskoning. Hy sê hy was eers ontsteld dat ek op Kersoggend so ontoeganklik was, maar toe besef hy, hy het ons privaat oomblikke binnegeval.

Dadelik weet ek toe dit is nie hy nie; dit is ek wat weer groen vrugte gedra het vir die Here. Partykeer sukkel ek om sy lig helder te laat skyn. Genadiglik is daar sulke mense wat my dan nie heeltemal afskryf nie. Ek wil graag elke dag so ʼn genade-uitdeler wees teenoor ander mense. Ek vermoed jy wil ook. Gaan doen dit net.

  • Hierdie oordenking verskyn in ʼn Veilige vesting deur Stephan Joubert. Dit word goedgunstiglik deur die Christelike Uitgewersmaatskappy/CUM verskaf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.