Almal het afgedwaal, almal het ontaard. Daar is nie een wat goed doen nie, selfs nie een nie. (Romeine 3:12)
Vroeër was ons ook onverstandig, ongehoorsaam, op die verkeerde pad, verslaaf aan allerlei begeertes en singenot; ons het ons lewe in kwaadwilligheid en jaloesie deurgebring; ons was haatlik en het mekaar gehaat. (Titus 3:3)
Die Romeine met wie Paulus hier praat het destyds ’n baie positiewe mensbeeld gehad, hulle het geglo daar is genoeg goedheid in elke mens sodat hy of sy self die kwaad kon oorwin. Ook vandag is dit die heersende mensbeskouing – ons wil bly vasklou aan die idee van die mens se wonderlikheid en dat ons darem nie so sleg is nie. Ja, baie van ons kry dit wel reg om ’n redelik aanvaarbare lewe te lei. Ons bly egter mens en neig maar om keer op keer teen God se wil te kies.
Ons het God nodig om reg te leef en ons moet besef ons kan nie onsself red nie, Jesus Christus is en bly ons enigste Verlosser. Ons is onmagtig om iets omtrent ons gebrokenheid te doen. Eers wanneer ons op die punt kom waar ons uitroep: “Ek kan my nie verweer nie, ek is saam met die hele wêreld strafwaardig voor U!” breek God se genade deur.
Ons dink redding lê in onsself en nadat ons elke selfreddingskema probeer het, dring die besef tot ons deur dat ons sondig, gebroke en stukkend is. Dan besef ons opnuut hoe bitter nodig ons God het. Party gelowiges dink verkeerdelik hulle hoef hulle nie oor sonde moeg te maak nie omdat dit God se plig is om te vergewe. Hy is dan so liefdevol. God duld egter nie sonde nie. Ja, Hy het die sondaar lief, maar Hy haat sonde.
Gelukkig het ons nie nodig om op onsself of aardse dinge te vertrou om ons heel te maak nie, ons kan op God vertrou, Hy is betroubaar. Wanneer ons na God toe vlug, ontvang Hy ons met ope arms en reinig Hy ons van alle ongeregtigheid. Wat ’n voorreg om kind van God te wees, sy genade is onbeskryflik groot.
Here, dankie dat U my sonde nie meer toereken nie, ek loof U hiervoor!
Dankie vir u Groot Genade elke dag, Vader. Ek verklaar my volkome afhanklikheid van u. Amen.
PRYS DIE HERE, PRYS SY GROTE NAAM.
As ons swak mense net wil besef hoe onbeskryflik groot is ons God se Genade oor ons maar ons is mos slim, mense wil he die Bybel moet by ons aanpas. God se Woord is nou en sal vir altyd dieselfde bly. Laat ons vir God om genade bid en tot Hom terugkeer dan sal dit weer goed gaan.