Gedagte vir die dag: God se volmaakte pad

God se pad is volmaak. Die Here se woorde is betroubaar. Hy beskerm dié wat by Hom skuil. (Psalm 18:3)

Hierdie psalm beeld God uit as die magtige kryger wat sy mense wonderbaarlik red. Die digter vier God se kragtige beskerming wat ons ervaar wanneer ons onseker en in gevaar is. Of die gevaar nou kom van die aarde wat skud en bewe of van die donderende voetstappe en vals aanklagte van menslike vyande, selfs die kettings van die dood kan God se mense nie uit sy sorg wegruk nie.

Die opsomming van hierdie psalm staan in vandag se vers, waar ons lees dat God se pad die volmaakte pad is en dat Hy sy beloftes nakom. God is ’n skild vir sy volk omdat niks gebeur wat buite sy beheer val nie. Ons kan na die Here toe gaan vir beskerming, met die wete dat Hy die vermoë het om ons veilig te bewaar. Die res van die psalm beskryf hoe God ons help – Hy maak ons voete soos dié van ’n wildsbok sodat ons op die hoogste berge kan gaan staan en Hy berei ons voor vir die stryd. Dit is deur God se krag dat ons in staat is om die oorwinning te behaal, en dit net omdat sy pad volmaak en sy beloftes waar is.

Hoe kan ons toegang tot hierdie beskerming en redding kry? Deur te vra. Ons liefdevolle hemelse Vader staan gereed om ons te help. Hy weet wat ons nodig het nog voordat ons dit van Hom vra, en Hy is gretig om ons te help. Die oomblik dat ons na God uitreik, steek Hy sy hand na ons toe uit en red ons van die gevaar wat ons bedreig. Loof God vir sy volmaakte liefdevolle sorg.

U het my gesien voor ek gebore is. In u boek is alles opgeteken; elke dag is bepaal voordat een van hulle daar was. Kosbaar is u gedagtes vir my, o God! Hoe onmeetlik is die totaal! – Psalm 139:16-17

Bron: In die skadu van die Allerhoogste deur Nancy Taylor & Chris Johnsen
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy/CUM

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.