In die huis van jou Vader

Foto: Pixabay

Sondae gaan ons kerk toe, saans voor ons gaan slaap sê ons ʼn gebed op en wanneer ons ʼn moeilike tyd beleef, pleit ons by die Here om ons daardeur te dra en ʼn uitkoms te gee.

  • Is dit wat Christenskap is?
  • Leef jy jou Christenskap só uit?
  • Is daar sekere rituele wat ek moet volg om as ʼn Christen gereken te word?

Die antwoord is nee. Om ʼn Christen te wees, beteken jy het ʼn persoonlike verhouding met Jesus. Jy sal tog nie jou vriende ignoreer by die skool en eenkant op jou eie wil gaan staan nie. Jy stuur vir hulle grappies aan wat jy weet hulle gaan laat skaterlag, want jy ken hulle goed. Jy maak moeite om by hulle uit te kom en te sorg dat jy kwaliteit tyd met hulle spandeer. Oor ʼn vakansie, wanneer ʼn mens nie al jou vriende sien nie, verlang ʼn mens later na mekaar en jy wonder hoe dit met almal gaan.

Dieselfde vriendskapsgebare wat jy openbaar teenoor jou vriende, kan jy openbaar teenoor Jesus. Spandeer tyd saam met Hom in jou stiltetyd, voed jou gees deur geestelike boeke te lees en na video’s te kyk wat jou gees regtig oplig en motiveer.

Om kerk by te woon en te bid wanneer jy dink dit is seker nodig, wen nie Jesus se hart nie. Moenie dink dit beteken jy hoef nie meer kerk toe te gaan nie. Dis waar jy jou battery herlaai vir jou nuwe week en waar jy tyd spandeer saam met medegelowiges: dit is broodnodig vir alle Christene. Dit is egter nie die enigste boksie wat jy kan afmerk en nou terugsit en dink jou deel is gedoen nie. Net soos wat jy by jou vriende gaan kuier, gesels jy ook met hulle en leer ken hulle beter – jy moet dit ook met Jesus doen. Hoe meer jy met Hom praat, hoe beter gaan jy Hom leer ken en verstaan watter goeie goed Hy als vir jou wil hê in jou lewe.

Jou lewe kan baie voller en meer vreugdevol wees as jy aandag gee aan jou belangrikste vriendskap – die een met Jesus. Die oomblik as jy ʼn vriendskaplike pad met Hom stap, gaan jou Christenskap ʼn leefstyl word en dit is presies hoe dit moet wees.

Jy hoef nie jouself moeg te maak om Sy goedkeuring te wen nie. Hy vra net dat jy in ʼn verhouding met Hom tree en ʼn pad saam met Hom sal stap.

Maak jou hart en lewe vol met Jesus en gaan dra Sy lig uit, elke dag.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.