Luister: Gedra deur gebed in Mianmar

Foto ter illustrasie. (Foto: Guilherme Romano/Unsplash.)

Een van vervolgde Christene se sterkste wapens is gebed. Die krag van gebed moet nooit onderskat word nie.

Dit is die woorde van Jan Gouws, uitvoerende direkteur van Geopende Deure Suider-Afrika, wat sê die Christene staan wêreldwyd sterk in die aangesig van vervolging danksy die krag van gebed. Geopende Deure werk saam met hierdie gelowiges in meer as 60 van die mees geslote lande waar Christenskap verhinder word oor wetlike of sosiale bedreigings.

“Wanneer ons vir vervolgde Christene bid, besef hulle dat hulle nooit alleen is nie en dat ons almal een met hulle is in die Liggaam van Christus,” sê Jan.

Vervolgde Christene in talle lande vertel gereeld hoe die gebed en bemoediging van Christene om die wêreld hulle deur die donkerste tye van swaarkry dra, hul geloof versterk en die lig van Jesus helder in hul lewens laat skyn.

“Hulle verhale van swaarkry word met gebede en bemoediging in verhale van hoop omskep, wat van die Here se beskerming getuig.”

Gouws het die verhaal van Naomi*, ʼn gebedstryder van Mianmar in Asië, as so ʼn getuienis met Maroela Media gedeel.

“Naomi se lewe wys hoe die krag van gebed in die lewens van vervolgde Christene nooit onderskat moet word nie.”

Gouws sê sy en haar man, Moses*, is jare reeds sendelinge in ʼn Boeddhistiese en animistiese gemeenskap in dié land. Hul gesin van ses was die eerste Christene in hul dorpie en is daarom as buitestanders beskou. Die gesin het talle uitdagings beleef wat ook gewelddadige aanvalle ingesluit het.

“Die natuurlike dood van Naomi se seun het die gesin se geloof ook tot die uiterste beproef, maar die gesin het deur dit alles getrou aan God en hul roeping gebly.”

Haar swaarkry het haar ʼn hart vir weeskinders gegee. Vandag nooi sy die kinders dikwels na haar huis toe, gee hulle iets te ete en leer hulle van God se Woord. Sy beskou die weeskinders as haar eie kinders en haar hart loop oor van dankbaarheid.

“Die Here het die gesin se bediening uitgebrei om ander tot geloof te bring. Naomi en Moses het begin om huiskerke te stig in die huise van die wat tot bekering gekom het.

“Naomi sê sy is dankbaar en ervaar vrede in oorvloed as sy dink oor hoe God vir haar sorg. Sy ervaar dat die Here haar teen gevaar beskerm, haar krag gee en haar bemoedig.

“Sy kan nie anders as om te getuig oor wat die Here al vir haar gedoen het nie en wil haar verhaal van hoop met ander deel om hulle ook te bemoedig.”

(Foto: Hakan Nural/Unsplash.)

Gouws sê Naomi weet dat die Liggaam van Christus saam met hulle staan en dat hulle in gebed verenig is.

“Danksy die gebede en ondersteuning van Geopende Deure se vennote kon sy en Moses na die talle beproewings wat hulle saam beleef het, opleiding vir paartjies bywoon. Hulle kon ook Geopende Deure se Standing Strong through the Storm-opleiding voltooi, wat hul verhouding met die Here versterk het.

Gouws doen ʼn beroep op lesers om deel te wees van Geopende Deure se bediening deur gebede en bemoediging vir hierdie Christene.

“Bid dat die mense in Mianmar die boodskap sal kan hoor en verstaan, dat Naomi en Moses se bediening sal uitbrei en dat hulle deur die Heilige Gees in krag en wysheid sal groei. Bid ook vir hul beskerming terwyl hulle die Woord van God verkondig.”

Jy kan vandag by Geopende Deure aansluit in gebed vir ons vervolgde familie. SMS net MAROELA en jou naam na 43 699 om ʼn gebedsvennoot te word. Standaard SMS-tariewe geld. Besoek ook Geopende Deure se webwerf om jou gratis tweemaandelikse gebedkalender af te laai.

Bid vir Mianmar

  • Bid saam met die kerk in Mianmar namate hulle voortgaan om die lig van Christus in hul gemeenskappe te wees.
  • Bid dat diegene in armoede vergenoegdheid in Jesus sal hê en dat hul lewens ’n kragtige getuie sal wees vir hul families en gemeenskap.
  • Christen-bekeerlinge ervaar baie druk om hul geloof te versaak. Bid saam met dié gelowiges vir dapperheid te midde van vervolging.

*Naomi en Moses is skuilname en verander vir veiligheidsredes.

  • Jan Gouws van Geopende Deure Suider-Afrika het met Esté Meyer Jansen van Maroela Media gesels oor die onskatbare krag van gebed vir vervolgde Christene wêreldwyd. Gouws het ook die getuienis gedeel van hoe gebed ʼn verskil maak in ʼn Christenvrou se lewe in Mianmar. Luister die volledige onderhoud boaan hierdie berig.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.