Luister:  Griekwagebed  – Inkommers

Kokerboom_02_ABrits.jpeg

Foto: Annelize Brits

Inkommers

Psalm 10

Jirre, vi wat loop stat U doer oorkant?
As ek U nodig, het U my kla gevelaat!
Inkommers dink dis hille se land,
en drik ons op onse eige grond plat.

Los hille, lat hille se planne hille vang,
want bendes skyl agter hille skelm lag,
en dis nou net hille wattie Jirre veag.
Hille maak onse ou grootmense bang.

Hy loop met hom nees innie lig,
want hy dink hy dra kla ’n staf,
hy vegjeet lattie Jirre hom kan tig,
en hy dink hom voetpat lyk skoon.

Hy bou hom hys op anner se grond,
en in hom hart glo hy hy bly staan,
ma hy dra lieg en vloek innie mond
en met hom tong bly hy vi jou slaan.
Hy bekryp jou innie donker nag,
slag en soek vrouense om te vekrag,
agter jou se deur sit hy vi jou en wag.
Nag vi nag koes werkloses vi hom mag.

Dan sê hille diep in hille se hart:
niks van dié goeterse sal God weet.

So sit hille vi onse Jirre en tart
en dink Hy sal dit alles vegjeet.
Staan nou op, Jirre, tel op U se hand,
wil U dan niks meer van ons weet?
Waar’s hille se respek vi U se land?
Hille dink U sal hille se dinge vegjeet.

Kjen U dan nie die honger wat ons ly nie?
Ons wat oener lê, kom nou vi U vertel:
swaarkry en vedrikking is sossie hel!
Moe nou nie sleg ongestraf lat bly nie!

Die Jirre is onse Kaptein wat hoor:
die sleg mens sal hom siel veloor,
want U het toe mos onse stem gehoor,
toe loop smyt U die vyand ytie aarde yt.

Voorgelees en opgeneem deur Veronica Geldenhuys uit die boek “Karos orie dyne”  geskryf deur Hans du Plessis en uitgegee deur Lapa Uitgewers.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.