’n Getuienis: Covid-19 plaas steeds druk op vervolgde Christene

Vervolgde Christene in Asiatiese lande sukkel dikwels om genoeg kos te kry. Dit is hier waar Geopende Deure en sy vennoot inspring om te help. (Foto: Geopende Deure/Instagram.)

Die Covid-19-pandemie het ʼn invloed op talle lande en die inperkingsmaatreëls in Asiatiese lande het swaarkry vir talle mense veroorsaak. Ongelukkig raak hierdie wêreldwye krisis ook Geopende Deure se werk om vervolgde Christene te ondersteun en te versterk.

“Die virus het die situasie vir die meer as 260 miljoen vervolgde Christene wêreldwyd vererger, wat reeds ernstige vervolging ervaar weens hul geloof in Jesus. Hul swaarkry is nou meer intens omdat hulle tydens die Covid-19-krisis selfs meer as tevore sukkel in hul daaglikse lewe. In lande waar die regering mense met verligtingsmaatreëls help, word daar dikwels teen dié Christene gediskrimineer en word hulle hulp geweier. Gevolglik sukkel hulle om te oorleef en genoeg kos in die hande te kry,” sê Jan Gouws, uitvoerende direkteur van Geopende Deure Suider-Afrika.

Gouws het ʼn getuienis van ʼn vervolgde Christen uit Mianmar met Maroela Media gedeel, wat nou sukkel om gedurende die pandemie kop bo water te hou.

“Die 60-jarige Samson* is ʼn gelowige uit ʼn Boeddhistiese agtergrond in Mianmar. Hy is een van talle gelowiges in Asië wat weens hul geloof uit hul huise gedryf is en deur hul bure aangeval is.

“Samson het gedurende die staat van inperking meer as gewoonlik swaargekry en gesukkel om genoeg kos in die hande te kry omdat hy nie kon werk nie. ʼn Pastoor het Samson en sy familie gehelp deur kos met hulle te deel,” sê hy.

Danksy die hulp van Geopende Deure-vennote bly Samson en sy 11 familielede nou in ʼn geheime skuilhuis in Mianmar nadat hulle met klippe uit hul huis en dorp verdryf is. Daar was selfs ʼn poging om sy familie se huis af te brand.

“Die regering het egter onlangs beperkings ingestel wat bepaal dat slegs ʼn maksimum van vyf mense in ʼn huis mag bly. Hulle is gevolglik ondervra en is nou onder druk om ander blyplek te kry,” sê Gouws.

Ondanks sy wonde en die trauma het Samson tog besluit om nie klagte teen sy aanvallers in te dien nie.

“Hy het verkies om hulle eerder te vergewe en God se liefde aan hulle te betoon. Die man wat sy huis aan die brand probeer steek het, het intussen na Samson gekom en hom om vergifnis kom smeek – hy is nou ook ʼn volgeling van Jesus,” vertel Gouws.

Gouws vra dat mense vir Samson en sy familie sal bid, sodat hul getuienis sal aanhou om ʼn lig te wees wat na Jesus Christus wys.

“Bid dat God hulle sal beskerm en onderhou. Bid vir gemak en skuiling vir hulle en ander Asiatiese families in soortgelyke omstandighede, en dat Geopende Deure se plaaslike vennote in staat sal wees om diegene te bereik wat die meeste ondersteuning nodig het,” voeg hy by.

Deur die hulp en ondersteuning van gewone gelowiges kan mense soos Samson en sy familie vasstaan in geloof en God se naam verheerlik. Jy kan vandag ʼn gebedsvennoot van Geopende Deure word. Jou gebede sal help om ons vervolgde familie in Asiatiese lande tydens vervolging in die Covid-19-krisis te versterk.

  • SMS “GEBED en jou NAAM” na 436 99 om ʼn gebedsvennoot van Geopende Deure te word en saam met jou vervolgde familie oor die wêreld te bid. Lesers kan ook opendoors.org.za besoek om meer te leer oor Geopende Deure se bediening en hoe om ʼn verskil in die lewe van ons vervolgde familie te maak.
  • Luister na Jan Gouws, uitvoerende direkteur van Geopende Deure Suider-Afrika, se volledige onderhoud met Maroela Media boaan hierdie berig. Hy het die getuienis van Samson in Mianmar met Esté Meyer Jansen gedeel.

 *Skuilname is gebruik.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.