Gedagte vir die dag:  Seën!

Foto: pixabay.com

Lees Numeri 6:22-27

Die Here sal julle seën en julle beskerm … (Numeri 6:24)

Gelowiges ken (en gebruik) ’n seënspreuk gewoonlik aan die einde van ’n gesprek. Die laaste woorde voor huis toe gaan, ’n (vrome!) tot siens. En meestal ook aan die einde van ’n erediens.

Maar vandag hoor ons dit aan die begin, rég aan die begin. En wanneer jy mooi daaroor dink, besef jy: Kán daar ’n beter tyd wees as juis hierdie eerste dag van die jaar om die Here se seënbelofte aan te hoor? So ’n voorafversekering dat Hy die pad saam met jou loop?

Wat ons boonop uit ondervinding reeds weet, is dat die Here se beloftes van ’n heel ander aard en gehalte as ons s’n is. Hierdie seën is dus nie ’n nuwejaarsvoorneme nie en dit is nie die opskrif boaan ’n wenslysie vir 2020 nie. Dit is niks minder nie as ’n bevestiging dat die Here jou in sy hande hou. Juis ook wanneer die nuwejaarsvoornemens een vir een deur jou swak vingers geglip het en die wenslysie uiteindelik opgefrommel in ’n moedelose hoekie lê. Maar die allerbeste – en ook dit weet ons uit heerlike onder- vinding – is dat die Here se seëninge veel, véél meer as vae goedvoelwaarde het. Ja, sy seëninge is almal dade. Alles is die werk van sy hande. Hy seën sy kinders met die dinge wat Hy vir hulle doen en aan hulle gee.

Ontvang dus vandag, kind van die Here, die seën van Hom met die groot en vaardige hande. En gaan leef hierdie eerste dag van die nuwe jaar wat Hy jou gee, knus en getroos in die holte van daardie grootse sagtheid.

Here ons Here, ek eet uit u hand. My beker loop oor.

Bron:  Uit die Beek 2019 deur Barend Vos
Uitgewer: Lux Verbi

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.