ToekomsVenster: Aanvaarding vir mekaar

hande-wat-liggies-vashou

(Foto: Diego PH/Unsplash)

Aanvaar mekaar dan, soos Christus julle ook aanvaar het, tot eer van God. – Rom. 15:7

Sjoe, ek wonder of daar mense is wat regtig dink dat hulle God ʼn guns gedoen het om sy kinders te word, amper iets soos “die Koninkryk sou darem baie arm gewees het sonder my. Kyk net wat ek alles vir God se sy werk beteken”.

Ietwat aanstellerig sou ek sê.

Ons is in alle opsigte weglaatbaar klein en het niks, maar niks, om op te roem nie behalwe vir die genade van God. Genade reg verstaan, is iets wat “ten spyte van” na ʼn mens se kant toe kom. Daar is inderdaad niks wat ons kan aanbied nie en die Bybel sê in Jesaja 64 ons beste werke is soos ʼn besoedelde kleed.

God in sy genade laat ons egter nie in ons sonde toestand los nie, maar vernuwe ons deur sy Gees. Ons status word radikaal verander van sondaars bestem vir die hel tot koningskinders.

Ek het iewers in preek gesê dat ons bietjie “statusbewus” moet word. Ja, nie soos in met die neus in die lug rondloop nie.

  • Ons het oorgegaan van die duisternis na die lig.
  • Ons bestemming lyk radikaal anders.
  • Ons het deel gekry aan ʼn merkwaardige geloofsfamilie.
  • Ons het ʼn Vader wat regtig vir ons omgee en ons belange op die hart dra.
  • Ons het broers en susters in die geloof met wie ons die reis deel.

As ons almal, en ek bedoel almal, dan dieselfde ongelukkige en troostelose agtergrond deel, mense wat verdien om verlore te gaan, en as ons almal suiwer uit genade met God in die regte verhouding gebring is, wat sou ons beweegrede wees om aanstellerig teenoor mekaar op te tree?

Ons aanvaar sommige en nie ander nie? Sommige aanvaar ons en nie ander nie?

Toegegee, ons verskil van mekaar en voel nie ewe aangetrokke tot alle ander mense nie. Dit egter verhoed nie dat ons ander die beste in die lewe sal gun nie, dat ons mekaar in gebed sal dra nie en dat ons altyd en onder alle omstandighede van mekaar die beste sal glo nie.

Die teks is duidelik. Aanvaar ander gelowiges onvoorwaardelik.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.