ToekomsVenster: As dit die wil van God is

(Foto: Leon Biss/Unsplash)

As dit die wil van God is sal ek vol blydskap na julle toe kom om ʼn tydjie by julle te rus. – Romeine 15:32

Paulus sluit sy brief aan die gemeente in Rome af met ʼn begeerte dat hy hulle iewers in die nabye toekoms sal kan besoek. Hy kwalifiseer dit egter met “as dit die wil van God is”.

My moeder is baie jare reeds oorlede maar ek hoor haar stem wanneer sy my pa en ons as kinders gedurig herinner dat ons ons voornemens met “as dit die Here se wil is” moet kwalifiseer.

Toegegee, dit kan net ʼn bysin sonder enige inhoud wees, maar dit was nie so met haar nie. “God se wil” spreek altyd die laaste woord.

Ons stel ʼn baie hoë premie op onafhanklikheid. Dit is aantreklik en verkieslik om nie van ander afhanklik te wees nie. Finansiële onafhanklikheid is baie gesog. Wie wil dan in ander se oë kyk?

Ons kan egter selfs sonder om dit te besef ons so onafhanklik probeer kry dat ons dink dat ons God ook maar uit die prentjie of beplanning kan laat.

ʼn Vriend het lekker gelag toe hy buite ons huis twee bordjies sien hang het. Die een sê “God sal sorg” wat ek met trots ophang oral waar ons nes skrop. Dit is inderdaad so dat God buitegewoon goed sorg en versorg. Ek en my gesin kan daarvan getuig.

Daar is ʼn ander bordjie reg langs die “God sal sorg” bordjie wat lees “ Protected by…” en dan die naam van die sekuriteitsmaatskappy wat gereed staan ingeval van ʼn inbraak of ander gebeurlikheid. “God sal sorg maar beskerm deur…”

Ja, ons het die verantwoordelikheid om met baie wysheid op te tree en om ʼn sekuriteitsgroep op bystand te hê, dit is sekerlik nie verkeerd nie.

Tog het my oplettende kollega my laat dink: Presies hoe ver vertrou ek God in my lewe? Presies hoe oorgegee is ek aan sy wil? In watter mate glo ek dat alles ten goede meewerk vir die wat Hom liefhet?

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

OW ·

Op die vrae wat jy in die laaste paragraaf vra ds Jannie,sal ek soos volg antwoord.Ons as mense sal seker altyd feilbaar bly,maar God het aan elkeen van ons ‘n verstand gegee om menslik moonlik voorsorg te tref en te doen wat ons kan.Die res laat ons aan Sy bekwame hande oor,en geniet Sy Vrug van Sy Gees,elke dag.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.