ToekomsVenster: As ons toegee aan vrees is dit verby

(Foto: Ben White/Unsplash.)

“… of hoogte of diepte of enigiets anders in die skepping kan ons van die liefde van God skei nie, die liefde wat daar is in Christus Jesus ons Here.” – Romeine 8:39 (AFR83)

Vandag sou hierdie land tot stilstand kom, dis nou as ʼn mens die tirade van ene Julius Malema moet glo. Teen vanaand sal ons weet wat die dag toe opgelewer het.

Ten tye van die skryf van hierdie dagstukkie is die gebeure wat met hierdie dag saamval, nog onbekend.

Dat mense in ons land gefrustreerd is en dat daar genoeg rede is daarvoor, is inderdaad so. Die vet weet ons het van leë beloftes, van teleurstelling, van eie belang en korrupsie, van swak regering en toenemende armoede, genoeg gehad.

Tog is daar merkwaardige dinge wat gebeur wat bevestig wat ons nog altyd geglo het – as die nag op sy donkerste is, skyn die lig van die Evangelie op sy helderste. Ons is immers ligdraers, geroep om die duisternis te verdryf.

Terug by die gebeure van hierdie dag.

Daar bestaan meganismes om jou ontevredenheid te toon in ons demokratiese bestel. Protes is een daarvan. Goed georganiseerde protes wat die saak dien en nie ander mense se regte ondergrawe nie, is in orde.

Die manier waarop protes in Suid-Afrika uitspeel, is egter nie in orde nie. Mense sterf, bloed vloei, onskuldiges word geïntimideer, eiendom word beskadig, verliese word gely, anargie en chaos dreig om die land onregeerbaar te maak.

Die verwoestende gebeure in KZN in die onlangse verlede, is daarvan ʼn voorbeeld.

Die ergste wat kan gebeur is dat kinders van die Here hul laat intimideer deur oorlogpraatjies.

Ons bring hoop, ons is eksponente van lewe. Ons tree nie onverskillig en ewe intimiderend op nie, maar ons laat ons nie voorskryf deur magte van die duisternis nie.

Ons leef en beweeg in die kragveld van die Heilige Gees. Immers, die Gees wat God ons gegee het laat ons nie in vrees leef nie, maar vul ons met liefde, krag en selfbeheersing.

Teen vanaand sal ons weet wat die dag opgelewer het.

Aan die vooraand van die gebeure bid ek dat dit tot niks sal kom nie. Dat die organiseerders van hierdie protesoptrede waarin woorde soos rewolusie, vuur, Sharpeville en Marikana gebruik word, op hul neuse sal kyk.

Dat hulle sal weet dat hul hulle hand totaal oorspeel het.

Mag dit so wees.

Intussen het ons by ons werkplek opgedaag, ons sakeondernemings oopgemaak, ons gang gegaan, ons lewens geleef, omdat Hy wat in ons is sterker is as hy wat in die wêreld is.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.