ToekomsVenster: Beoefen praktiese Christenskap

ligtoring_4_stiltetyd_pixabay.jpg

(Foto: Pixabay.com)

“Julle is die lig vir die wêreld. Laat julle lig so voor die mense skyn, dat hulle julle goeie werke kan sien en julle Vader wat in die hemel is, verheerlik.” – Matteus 5:14 en 16

Hier word van ʼn ander metafoor gebruik gemaak. Suid-Afrikaners weet hoe dit voel om in die donker te probeer rigting vind. Ons geliefde elektrisiteitsvoorsiener vind dit moeilik om konsekwent te sorg dat ons die ligte kan aanskakel. Veral sakeondernemings ly erg daaronder. Sonder elektrisiteit is daar nie sprake van lig nie en is kerse en ander vorme van lig ons voorland.

Jesus se voorligting is baie konkreet. Jakobus adem dieselfde gedagtes. “Jy sê jy is ʼn man en vrou van geloof, wys my waar dit gedemonstreer word”, redeneer hy. Geloof is nie ʼn teoretiese aangeleentheid nie, maar word in die praktyk van elke dag vergestalt.

Daar is soveel geleenthede in Suid-Afrika om as ligdraers op te tree en ook op ʼn praktiese wyse ʼn verskil te maak in die lewens van mense.

Ons vermoëns verskil van mekaar. Tog het elkeen die vermoë om iets te doen om die leefwêreld van minderbevoorregtes ietwat te vergemaklik en draaglik te maak.

Sommige gee geld, en as dit nie maar net ʼn manier is om jou gewete te sus nie, maar inderdaad bedoel is om ander mense in die vermoë te stel om basiese behoeftes te vervul, is dit prysenswaardig. Ander het die vermoë om trooswoorde te spreek teenoor mense wat diep bedroef is, om raad te gee waar mense radeloos geword het, om perspektief te bring waar mense se wêreld inmekaar tuimel, om saam met mense wat in nood is, te bid, Bybel-gedeeltes met ander te deel, vaardighede oor te dra.

Die feit van die saak is dat elkeen van ons geroep word om ʼn verskil te maak in hierdie wêreld.

Jesus gebruik lig en goeie werke in dieselfde sinsnede. Wanneer Christene in gehoorsaamheid en geloof hulself tot beskikking stel van ander mense, word die naam van die Here verheerlik en beantwoord ons aan ons skeppingsdoel.

Mag ek weer vra en sonder om aanstoot te gee: Jy sê jy is ʼn man en vrou van geloof, maar vind dit uitdrukking?

Dis nie te laat om praktiese Christenskap te begin beoefen nie.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Yvonne ·

Here help my om as U ligdraer te funksioneer waar U dit nodig ag..Amen

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.