ToekomsVenster: Bid, dis nie so moeilik nie

Foto: Juanita Badenhorst.

Ek sal julle ‘n nuwe hart en ‘n nuwe gees gee, Ek sal die kliphart uit julle liggaam uithaal en julle ‘n hart van vleis gee. – Esegiël 36:26

Sou die Here bedoel het dat die lewe saam met Hom moeilik en moeisaam moet wees? Ek dink nie so nie. Tog beleef baie van ons die Christelike wandel swaar en selfs pynlik. Dis asof die Here gedurig die onmoontlike van ons vra en onbereikbare eise stel. Daarmee is Hy altyd gereed om ons tereg te wys en oor die vingers te tik omdat ons nie aan standaarde voldoen nie.

Ek dink nie dis die God van die Bybel nie en dit klink ook nie na Goeie Nuus nie.

Dit beteken hoegenaamd nie dat dissipline, selfbeheersing en integriteit die hoogste premie verdien in ons geestelike lewe nie. Daar is nie plek vir ʼn slordige geloofslewe nie. Ons moet erns maak met die Woord en die opdragte wat daarin vervat is. Die Heilige Gees het egter dit wat ou Testamenties ʼn standaard buite ons verteenwoordig het deur die wedergeboorte op ons harte geskrywe.

Ons kan nou bo natuurlik daarvolgens lewe omdat die Gees ons bekwaam en toerus.

Een van die geloofsgewoontes waaroor ons dikwels skuldig en minderwaardig voel is gebed. Ons redeneer dat ons nie lank genoeg, intelligent genoeg of teologies korrek bid nie. Ons bekommer ons of ons die Vader, Seun of Gees in die gebed moet aanspreek. Ons verkwalik ons onvermoë met betrekking tot die saak as daar oënskynlik nie gebedsverhoring kom nie. Ons voel skuldig omdat ons gedagtes afdwaal terwyl ons bid.Ons wonder of die Here hoegenaamd hoor wat ons bid en watter verskil dit aan die einde van die dag maak. So kan ons aangaan.

Gebed reg verstaan is ʼn heerlike samesyn met die Een wat jou onuitspreeklik liefhet. Hy staan nie gereed om te oordeel en te veroordeel nie. Ons weet waar daardie beskuldigings vandaan kom.

Toe het ek ‘n stem in die hemel gehoor wat hard uitgeroep het: “Nou het ons God die redding gebring, nou is sy mag en koningskap hier, en die gesag van sy Gesalfde! Die aanklaer van ons medegelowiges is uit die hemel uit gegooi, hy wat hulle dag en nag voor ons God aangekla het. – Openbaring 12:10

Vra die Here dat Hy jou help om gebed as ʼn opbouende en vertroostende genadegawe te beleef. Hou op skuldig voel. God kyk na jou hart. Bedoel jy dit opreg? Dan het jy reeds ver gevorder na betekenisvolle gebed.

As ons gewete ons veroordeel – God is groter as ons gewete, en Hy weet alles. – 1 Johannes 3:20

Kyk net weer na die ongekompliseerde en op die man af gebed wat Jesus sy dissipels geleer het. Bid dit nou:

Ons Vader wat in die hemel woon
Laat U Naam geheilig word
Laat U Koninkryk kom
Laat U wil geskied
Soos in die hemel so ook op die aarde
Gee ons vandag ons daaglikse brood
En vergewe ons ons skuldenaars soos ons die vergewe
Wat teen ons sondig
Ek lei ons nie in versoeking nie
Maar verlos ons van die bose.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Andreas ·

Vir party kom dit te maklik, soos water van ‘n eend se rug.

Johan Brits ·

Só moet julle dan bid:
Onse Vader wat in die hemele is,
laat u Naam geheilig word,
laat u koninkryk kom,
laat u wil geskied,
soos in die hemel
net so ook op die aarde
Gee ons vandag
ons daaglikse brood,
en vergeef ons ons skulde,
soos ons ook ons skuldenaars vergewe;
en lei ons nie in die versoeking
nie, maar verlos ons van die Bose.
Want aan U behoort die koninkryk
en die krag en die heerlikheid tot
in ewigheid. Amen.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.