ToekomsVenster: Blymoedigheid

Foto: @cathalmacan/Unsplash.com

Dit gaan altyd sleg met ‘n bedrukte mens; die blymoedige mens se hele lewe is ‘n fees. – Spreuke 15:15

Die volle betekenis van ʼn woord kom beter na vore wanneer ʼn mens in terme van sinonieme en antonieme dink. Woorde wat in dieselfde betekenisveld as blymoedigheid lê sluit blydskap, geluk, vreugde, gemoedelikheid en welstand in. Die teenoorgestelde van blymoedigheid sluit in onvergenoegd, treurig, bedruk soos die teks so mooi sê, negatief, selfs melancholies in.

Ek wonder hoe voel jou gemoed vandag. Ons verkeer nou ongeveer twee weke in ʼn staat van afsondering. Miskien is jy verbaas dat jy dit so goed hanteer. Ons prys die Here saam met jou.

Miskien sukkel jy met die afsondering en dreig ʼn depressiwiteit om jou te oorweldig. Belangrik dat jy jouself nie onder veroordeling plaas en jou swaarkry nog vererger nie. Vat ʼn slag aan jouself en word bewus daarvan dat jy ʼn mens, nie ʼn superwese is nie. Die Here verwag dit ook nie van ons om super geestelik te wees nie. Trouens, gebrokenheid en afhanklikheid wat nie gebreidel ongeloof impliseer nie is eg aan die Bybelse verhaal.

Die Psalmdigter en sy worsteling is daarvan een voorbeeld.

Per geleentheid is Jeremia so moedeloos en teleurgesteld dat hy God verwyt.

Jeremia 15:18 – Waarom is daar nie ‘n einde aan my pyn nie, waarom is my wond ongeneeslik en wil dit nie gesond word nie? Ek kan nie op U reken nie, net so min as op ‘n stroom wat nie standhoudend is nie.

Die Here is hier egter nie te vinde vir Jeremia se ietwat arrogante houding nie en dwing hom om sy woorde terug te trek. Immers as profeet het hy ʼn verantwoordelikheid.

Jeremia 15:19 – Die Here het toe gesê: As jy jou woorde terugneem, sal Ek jou weer in my diens neem. As wat jy sê, waarde sal hê en nie onsin sal wees nie, sal jy weer namens My kan praat. Die mense moet jóú volg, nie jy vir hulle nie.

Die teks help ons egter in die sin dat mismoedigheid, teleurstelling en moedeloosheid nie uniek aan enige een van ons is nie maar ʼn gemeenskaplike menslike ervaring. Dit sal baie help as ons soms ietwat eerliker is oor ons ervarings.

Dit is opmerklik dat blymoedigheid twee kernwoorde bevat, tw. “bly” en “moed”. Die twee begrippe is interaktief besig om op mekaar in te speel. Skep moed en jou blydskap neem toe. Kies om bly te wees en moed lig sy kop op. Paulus se bekende teks in Fil.4:4 is ter sake “ Wees bly in die Here, ek herhaal, wees bly (altyd)”

Sê bedruktheid die stryd aan. Dit is nie waarvoor Jesus betaal het nie. My erfdeel is blymoedigheid selfs te midde van aanvegtinge.

Die Here is (nog altyd, onvoorwaardelik, onvergelykbaar, sonder skroom of aarseling) lief vir jou!

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Yvonne ·

Dankie Here dat my gemoedstoestand nie die bepalende faktor is nie…U my God is my anker en my skuiling

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.