ToekomsVenster: Daar is vryheid

“‘Die Here’ beteken hier ‘die Gees’, en waar die Gees van die Here is, is daar vryheid.” – 2 Korintiërs 3:17 (AFR83)

Dit is ʼn interessante vers hierdie en een wat soms uit verband geruk word.

Die Bybel vorm ʼn eenheid. Dit is een en dieselfde boodskap.

Die mens bevind homself in ʼn doodloopstraat en dit vanweë die keuses wat hy maak. Anders gestel, die kontak met God is verbreek vanweë die rebellie en opstand wat in die hart van die mens leef.

Adam en Eva se sonde was niks anders as verraad teenoor die Een wat hulle geskep en volle aanspraak op hul lewens het nie.

Inderdaad het hulle hul laat mislei deur die leuens van die bose. Hy is ʼn slim strateeg en weet net waar die swak plek in elkeen van ons se mondering is.

Wie wil nou nie baas wees nie?

Waarom onderworpe aan God leef as jyself die finale sê kan hê?

Sonde is vergryp. Sonde is om te sê – ek weet beter, ek kan dit beter doen, ek is volledig in staat en ek het die Here nie nodig nie.

Die Here se genade is groot en Hy skep ʼn behae daarin om die mens uit sy verknorsing te red.

Sonder verdienste, sonder meriete, net omdat Hy omgee en liefhet.

Wanneer ʼn mens dan hierdie merkwaardige vryspraak beleef en in ontvangs geneem het, kry hy ook deel aan die Gees.

Hy bewoon die harte van God se kinders.

Hy bevestig die vryheid waaraan kinders van die Here deel gekry het.

Tog misbruik sommige hierdie vryheid en oefen keuses uit wat hulle weer slawe maak.

Vryheid is gesog, maar nêrens is daar sprake van ongekontroleerde vryheid nie. Dalk is dit “vrysinnigheid” eerder as vryheid. Vrysinnigheid is arrogant en voorbarig. Vryheid het dankbaarheid en genade as onderbou.

Die Bybel maan ons om nie ons vryheid te misbruik om weer sonde te doen nie.

Die ervaring van genade maak vryheid kosbaar.

Daar is niks vanselfsprekend aan vryheid nie.

Dit het Jesus se lewe gekos. Hy het soos ʼn slaaf geword – in die woorde van Filippense het Hy die gestalte van ʼn slaaf aangeneem en nie in sy Godheid geroem nie.

Moenie julle weer onder die slawejuk laat indwing nie.

  • Wil jy meer weet oor die ToekomsVenster-projek? Stuur ʼn e-pos aan ds. Jannie Pelser by [email protected] vir nog inligting.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

annie ·

Ons sou gewoonlik vandag Hemelvaart gedenk het. Wat doen ons vandag, veral ons Afrikaner-Christene? Niks? Maar dis waar: Ons sal self. Dit is waar ons ‘n groot fout maak… Veral ons Afrikaners. Sjoe, dis jammer!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.