ToekomsVenster: Dankbaar vir elke nuwe dag

Foto: Juan Giraudo/Unsplash

“Dit is die dag wat die Here gemaak het; laat ons daaroor juig en bly wees.” – Psalm 118:24 (AFR83)

Ons het almal een realiteit met mekaar in gemeen: ons beleef dag en nag. Ek bedoel letterlik, nie metafories nie. ʼn Dag het 24 uur, waarvan rofweg 12 ure dag en 12 ure nag is. Gedurende die dag is ons aktief en leef ons. Snags slaap ons, leef steeds maar op ʼn ander manier.

Ek moet bieg dat opstaan soggens somtyds vir my maar uitdagend is, veral nou dat die winter hier is.

Smaak my dis nog middernag wanneer die wekker soggens sy opstaanwysie sing. Aanvanklik sukkel die lyf om al die departemente effektief te laat werk, maar na die eerste koppie koffie gaan dit stukke beter.

Ek hoor dat ʼn dankbare mens langer leef en ek is nie haastig om die tydelike en die ewige te verwissel nie.

Ek is dankbaar, enorm dankbaar. Die meetsnoere van Psalms 16 het in lieflike plekke geval. Wanneer ek dink aan die ongerief, en dit is om dit sagkens te stel, waarbinne die meerderheid Suid-Afrikaners in ons land leef, kan ek nie en mag ek nie kla nie. Dis spreekwoordelik met die witbrood onder die arm. Na koffie bid ek en Suzette saam en die eerste woorde is inderdaad: “Dankie Here, dankie vir ʼn nuwe dag”.

Wanneer ʼn mens ʼn bietjie ouer word bedink jy meer gereeld die ander realiteit van die lewe. Metafories gestel, die ewigheid en wat moet gebeur om “daar” te kom. Teologies gesproke het die ewigheid na ons toe gekom die dag toe ons geloofsekerheid gekry het.

Die pad na daardie sekerheid is so eenvoudig, dis radikaal en omvattend maar nie moeilik nie.

Net ʼn gebed soos ek op 27 Januarie 1977 gebid het: “Here, ek kan nie sonder U lewe of sonder U sterwe nie. Ek het U nodig. Hier is ek, doen soos U wil”.

Ek vertrou dat jy ook al by daardie punt was, of wie weet dalk vandag kom.

Terug na die dag en nag storie.

Dag is ʼn genadegawe. Daar is niks vanselfsprekend aan elke nuwe dag nie. Toe ek geslaap het, die alarm ten spyt, was ek aangewese op die sorg en beskerming van God en sy engele.

ʼn Mens is so broos wanneer jy slaap.

Die feit van die saak is dat toe jy jou oë oopmaak weet jy, ek is nog hier.

Here, dankie vir ʼn nuwe dag.

Ek vertrou jy is eweneens dankbaar daarvoor.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.