ToekomsVenster: ‘Die asem van die Almagtige het my lewe gegee’

(Foto: Kelvin Valerio/Pexels)

“Hy het al wat lewe, in sy mag, die asem van elke mens.” – Job 12:10 (AFR83)

Frieda Kruger sing in haar liedjie “Asem” die volgende woorde: “In die ewigheid haal ʼn mens nie meer asem nie”.

Ons almal het die verwagting dat ons, wanneer ons van hierdie teenswoordige werklikheid vertrek, die ewigheid by God gaan deurbring. Ja, vir hulle wat glo het die ewigheid reeds begin die dag toe hulle saak met die Here uitgemaak is en Hom as hulle persoonlike Verlosser en Saligmaker aanvaar het. Hy het ook gesê dat Hy gaan om plek voor te berei, wanneer daardie plek voorberei is, kom Hy ons haal sodat ons by Hom kan wees.

So het Hy al van ons geliefdes, kennisse en vriende kom haal en is daar by ons die verwagting dat ons ook op die regte tyd, die God-bestemde tyd, sal aansluit by hulle wat ons vooruitgegaan het. Die interessante gedagte dat ʼn mens in die ewigheid, die ander kant van hierdie werklikheid, nie asemhaal nie, laat ʼn mens dink. Die prediker sê eintlik dus ook, ek verwerk dit sommer in my eie woorde, daar is ʼn tyd vir asem haal en ʼn tyd waar ʼn mens nie meer asemhaal nie.

ʼn Mens kan jou die lewe by Christus nie voorstel nie. Hoe sal dit wees, die verheerlikte liggaam waarvan die Bybel praat?

Die Woord sê tog in 1 Korintiërs 15, dit wat gesaai word, is verganklik, maar wat opgewek word, onverganklik. Wat gesaai word, is tydelik, maar dit wat opgewek word, is ewig. Wat gesaai word van ʼn bepaalde gestalte, is maar dit wat opgewek word van ʼn ander gestalte.

Enersyds is daar kontinuïteit, immers die vroue het vir Jesus herken nadat hy hulle gegroet het toe hulle sy liggaam wou kom versorg by die graf.

Eweneens verskyn die Here aan sy dissipels terwyl hulle bymekaar was en wys vir die ongelowige Thomas die wond in sy sy en sy deurboorde hande. Alle aanduidings is dat hulle Hom herken het. Tog het Jesus in sy verheerlikte gestalte anders daaruit gesien as voor sy opstanding.

Aardse wetmatighede was nie meer op Hom van toepassing nie. Hy verskyn byvoorbeeld doodgewoon aan sy dissipels.

Ek glo dat ons nie vir ʼn enkele oomblik verveeld sal wees nie. Dan weer, tyd bestaan ook nie in die ewigheid nie. Tyd is ʼn “hierdie kant se realiteit”, in die ewigheid is daar nie tyd nie. Net so is daar in die ewigheid ook nie suurstof wat ons aan die gang moet hou nie, ook nie ʼn hart wat moet klop sodat die bloed die eindpunte van ons liggaam bereik met wat nodig is om optimaal te funksioneer nie.

Hoe moet ʼn mens hierdie dinge verstaan, dit is geheimsinnig, wonderlik en tog laat dit ʼn mens wonder.

Dalk moet ons die feit dat ons tans kan asemhaal meer waardeer. Asemhaling is so outomaties, ʼn mens dink nie eers daaroor nie. Dit is eintlik eers wanneer jy asemnood beleef dat jy agterkom dat jy sonder asem, nie kan leef nie.

Konsentreer vir ʼn wyle op jou inasem en uitasem.

Dank Hom vir hierdie merkwaardige meganisme wat hy aan die mens gegee het en wat die mens aan die lewe hou.

“Die Gees van God het my gemaak, die asem van die Almagtige het my die lewe gegee.” – Job 33:4 (AFR83)

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Yvonne ·

Amen…..ons verstaan nie alles nie maar eendag sal ons wel…..dit is die Heer se belofte

Andre77 ·

Lees Romeine 12 en verstaan dat dit juis God se wil is dat ons alles moet verstaan sodat Sy wil kan geskied.

Andre77 ·

So belangrik dat elkeen moet verstaan waarom hy of sy die asem van die lewe ontvang het. God wat asem in jou geblaas het om te kan lewe en daarom moet jy weet wie, wat en waarom jy hier is. Jy is geslep vir God se doel en om asem te haal vir sy doel.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.