ToekomsVenster: Die groot prys wat Jesus betaal het

kruis-sonsondergang-wolke

(Foto: Aaron Burden/Unsplash)

en omtrent die negende uur het Jesus met ‘n groot stem geroep en gesê: Eli, Eli, lama sabagtáni? Dit is: My God, my God, waarom het U My verlaat? – Matt. 27:46

Die gebeure rondom die kruisiging van Jesus is vandeesweek in die visier.

Die dood en opstanding van Jesus is die hart van die Evangelie. Evangelie beteken immers Goeie Nuus en die Goeie Nuus is dat Jesus, plaasvervangend, vir elkeen van ons se sonde, ongeregtigheid en onverskilligheid betaal het.

Dit word genade genoem en genade is per definisie onverdiend, gratis en vul ʼn  mens juis daarom met groot dankbaarheid. Hierdie dankbaarheid word vergestalt in die goeie dade waarmee kinders van die Here hulle in hierdie wêreld besig hou.

Die aksent is belangrik, dankbaarheid. Anders as in ander geloofstradisies waar God tevrede gehou moet word deur dade van gehoorsaamheid. Selfs dan is jou redding nie verseker nie en besluit God afhangend van hoe Hy voel wie is in en wie uit.

Dit is so anders in die Christelike geloof.

Ons is en word gered nie op grond van nie maar ten spyte van.

Paulus getuig daarvan as hy skryf, die loon van die sonde is die dood maar die genadegawe van God is die ewige lewe. (Rom. 3:23)

Alles, alles is genade, onverdiende guns alleen.

Hierdie waarheid dat God ons voor die grondlegging van die wêreld lief gehad het en kom doen het wat nodig was om dit te bewys is iets waaraan ʼn  mens nooit gewoond mag raak nie.

Die gebeure rondom die kruisiging van Jesus maak ʼn mens weereens bewus van die groot prys wat Jesus betaal het.

Ons word bewus van die pyn in die Vader se hart as Hy vir ʼn oomblik moet wegkyk van sy Seun,  soveel so dat die Seun uitroep: “Eli, Eli, lama, sabagtani – my God my God waarom het U my verlaat”.

God van God verlaat – wie kan dit begrip?

God van God verlaat sodat ons te midde van die grootste trauma nooit alleen sal wees nie.

Immanuel, God is met jou.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Yvonne ·

Here met my mensverstand kan ek my dit skaars indink…U Woord leer my van hierdie groot onvernietigbare, onvergelykbare liefde, daarom bring ek vir U al die lof, eer en dank…Amen

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.