ToekomsVenster: Dit is nie jou skuld nie

(Foto: Milada Vigerova/Unsplash)

“Die wet van die Gees wat aan jou in Christus Jesus die lewe gee, het jou vrygemaak van die wet van sonde en dood.” – Romeine 8:2

Daar is seker min mense wat nog nie een of ander traumatiese ervaring gehad het nie.

Nie alle gebeure word as traumaties beleef nie. Dit hang nie net van die intensiteit van die gebeure af nie, maar ook van die persoon.

Ons verskil van mekaar, asook wat die wyse van hantering van moeilike omstandighede betref.

Wanneer ʼn persoon ná ʼn bepaalde gebeurtenis psigiese pyn ervaar wat nie gemaklik oplos nie, kan ʼn mens die gebeure as traumaties beskryf.

Ek wil graag gedurende hierdie week ʼn paar lyne trek met betrekking tot hierdie saak.

Soos reeds aangedui hanteer en verwerk mense trauma op verskillende maniere, maar ek reken dat lesers en luisteraars met sommige van die sake wat ek wil aanraak sal kan identifiseer.

Een van die eerste vrae wat by ʼn mens opduik, ook vanuit ʼn geloofsperspektief, het met aandadigheid te make. Die vraag waarom iets gebeur het en of dit aan skuld toegeskryf kan word, kom op die tafel.

Wat het ek verkeerd gedoen?

Word ek gestraf vir iets wat ek gedoen het?

Waar was God en is Hy kwaad vir my?

Uiteraard kan ek nie die werk van die Heilige Gees in iemand anders se lewe peil nie. Dat sommige dinge wat gebeur ons wel konfronteer met ons eie menswees, prioriteite en keuses, mag so wees. Jy kan daaroor bid en vra dat die Here jou deur sy Gees lei. Jy kan ook daardie sake na die Here toe bring en Sy vergifnis ontvang.

Dit beteken steeds nie dat wat met jou gebeur het die straf van die Here is nie, inteendeel. Jesus het al die skuld aan sy eie liggaam gedra en die volle prys betaal.

Kyk weer na die teksvers vir vandag en lees ook die volgende vers:

“Daar is dus nou geen veroordeling vir dié wat in Christus Jesus is nie.”Romeine 8:1

Om op te som, slegte dinge gebeur met gewone mense, Christene ingesluit. Dit is een van die hartseer werklikhede van ons bestaan op aarde. Tog weet ons dat ons nooit alleen is nie en dat selfs die grootste aanvegting ons nooit van die Here se liefde sal skei nie.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

AmY ·

Waarom gebeur slegte dinge met goeie mense?
Waar is God wanneer bejaardes op plase gemartel en vermoor word?

Frank ·

Presies op dieselfde plek toe sy Seun aan die kruis vir al Sy uitverkorenes gesterf het. Alles wat gebeur is in Sy wil (of in Sy toelaatbare wil). Hy sê vir ons: WANNEER (nie indien nie) jy deur die vuur gaan, weet Ek is met jou. Dis die sekerheid wat ons as gelowiges het, dat ons in lewe of in sterwe aan Hom behoort (onder andere HK Sondag 1).

Yvonne ·

Here daar is so baie dinge wat ek nie verstaan nie….maar ek weet U hou die antwoord op elke vraag…Amen

Chantel ·

Nou gaan ek aangeval word…… God het geen behae in ons aardse bestaan nie, NIKS, Hy het behae oor jou siel. So ons aardse bestaan is vir God van min waarde.

Frank ·

Nee, niemand gaan jou aanval nie, Chantel!!!
Vra jouself wat is die doel hoekom die Vader ons op hierdie tydstip op hierdie plek laat leef in Sy alwysheid.
Dis om Hom te verheerlik in alles wat ons dink, sê en doen in hierdie leeftyd,
Ja….. ons beste pogings selfs is met “bloed bevlek” van die sonde, maar deur Jesus se Offer gesien, is ons vlekkeloos.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.