ToekomsVenster: ‘Ek wil vir julle ’n toekoms gee’

(Foto: Annie Spratt/Unsplash)

Ek weet wat Ek vir julle beplan, sê die Here: voorspoed en nie teenspoed nie; Ek wil vir julle ‘n toekoms gee, ‘n verwagting! Dan sal julle My aanroep, tot My kom bid, en Ek sal julle gebede verhoor. – Jer. 29:11-12

Die misterieuse wêreld van legkaarte bou. Geduld, geloof, dissipline is nodig as jy die legkaart van die lewe aanmekaar wil probeer sit. Die stukkies van ʼn gewone legkaart is in die houer. Toegegee soms raak ʼn stukkie of wat weg en dit is ʼn frustrerende besigheid as jy die legkaart nie kan voltooi nie.

Amper soos die vrou wat haar penning verloor het keer jy die huis om om daardie stukkie op te spoor.

Niemand raam ʼn  legkaart waarvan daar stukkies kort nie. Daardie onvoltooide ruimte skree ten hemel. Dit is soos koffie sonder suiker en konfyttertjies sonder vulsel. Dit is onbevredigend en frustrerend om die minste te sê.

Tog is dit hoe die lewe werk. Al die stukkies is nog nie in die houer nie. Jy kan dalk al ʼn prentjie begin vorm van hoe die voltooide stuk daar mag uitsien maar, die verrassingselement bly.

God behou die kopiereg. Die finale plan is by Hom. Die bloudruk is in sy besit.

Amper soos “on a need to know basis”, hoe sal mens dit op goeie Afrikaans sê?

Waarom gee die Here nie hele prentjie nie, waarom is Hy suinig om die stukkies op die tafel te plaas?

Dalk sal ons belangstelling verloor as ons al die stukkies het. Dalk sal ons die legkaart voortydig voltooi en nie meer die nodige motivering kan ontwikkel om voort te gaan nie. Trouens, is dit nie hoe dit met Hom werk nie. Een dag op ʼn  slag, een tree op ʼn  keer.

“Ek weet wat Ek beplan” sê die Here. Die stukkies word as’t ware aangegee sodat dit op die regte plek geplaas kan word.

Somtyds het die stukkie met iets te doen wat lankal afgehandel is. Somtyds is die stukkie die verstaan waarna jy gesmag het. “O, nou verstaan ek waarom ek hierdie of daardie pad moes stap.”

Op daardie stadium het ek gevoel dat die Here van die groter plan vergeet het. Ek het Hom in my omstandighede gesoek en nie raakgesien nie. Nou verstaan ek of dalk, omdat ek reeds die ervaring gehad het dat alles nie onmiddellik sin maak nie maar later bydrae om die prentjie te voltooi, sal ek die Here ook nou vertrou”.

Dink aan die pad wat jy tot hier moes stap.

Is daar ook sulke stukkies legkaart wat nou eers sin maak?

Is daar stukkies legkaart wat nog nie aangegee is nie?

Vertrou die Here.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.