ToekomsVenster: Elke dag om 12 uur

uurglas

(Foto: Samer Daboul/Pexels)

“Toe Daniël hoor dat die dekreet uitgevaardig is, het hy na sy huis toe gegaan. Sy dakkamer se venster het na Jerusalem se kant toe gekyk en soos sy gewoonte altyd was, het Daniël voortgegaan om drie maal per dag voor sy God te kniel en Hom te prys, te aanbid en te dank.” – Daniël 6:11 (AFR83)

Ek het onlangs ʼn kursus aangebied vir ʼn groep Anglikaanse dominees en dit was ʼn heerlike voorreg.

Wat my opgeval het, was die 30 minute toewyding aan die begin van ons bymekaar wees waar Skriflesing, belydenis en lofprysing kardinaal was.

Die gehoor het baie gebruik gemaak van responsoriese manier van dinge doen.

ʼn Voorganger dra die eerste sin of frase van byvoorbeeld ʼn Psalm voor, waarna die res van die aanwesiges dit herhaal.

Dit gebeur ook nie haastig nie. Dit het kompleet gevoel of die dominees die waarheid wou laat tuiskom voordat hulle daarop reageer.

Ek, met my haastige temperament, was dikwels die enigste stem totdat die ander bykom. Ek het besef dat ek tot rus moet kom. Alles gebeur vinnig en haastig. Miskien kan jy daarmee identifiseer.

So baie om te doen en so min tyd om dit af te handel.

Dit kom maar altyd weer neer op prioriteite.

Ons redeneer dat ons net eers hierdie of daardie taak wil afhandel en dan sal ons aan ons geestelike lewe werk. Die Bybel draai die orde om. Jy begin jou dag met God en die res val in plek.

Natuurlik is ons onwilligheid om ons lewens daarvolgens te reël ʼn uitdrukking van wantroue. Feit van die saak is dat God ons deur sy Gees vooruitgaan. Hy berei die pad voor en as ons Hom toelaat en voorrang gee in ons lewens, mag ons verras word deur die gladde wyse waarop ons dag verloop.

Maar dit is veral die besondere reëling dat presies om 12 uur elke dag alles tot stilstand kom vir ʼn konneksie met die Here wat my altyd sal bybly.

ʼn Kort gebed maar net weer as’t ware tuiskom by die Here. Net eers weer fokus op God voordat die res van die dag se program voortgaan. Ongeag hoe belangrik die inhoud was wat ek met die kollegas wou deel, ek is arm swaaiend vriendelik daarop gewys dat dit nou tyd vir gebed was.

Ek het summier besluit om by daardie pragtige gebruik aan te sluit en my selfoon so opgestel dat ek elke dag om 12:00 herinner word aan God.

Gister om 12:00 het my foon vir die eerste keer afgegaan. Ek was in die motor en verleë om aan almal te vertel waarom my alarm afgegaan het. Volgende keer sal ek dit doen, wie weet hoeveel mense begin daardie gewoonte volg.

Saggies en by myself het ek die Here geloof vir hierdie verrassende manier waarop Hy nou my dag, asof dit my dag is, kom onderbreek.

Dit maak ʼn reuse-verskil.

Miskien wil jy nou dieselfde doen.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Yvonne ·

Amen….dankie vir elke oomblik elke uur elke minuut saam met U

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.