ToekomsVenster: Fluit teen die wind

(Foto: Bluebudgie/Pixabay)

Moenie onverstandig wees nie, soos ‘n perd of ‘n muil wat met ‘n stang in die bek beteuel moet word as jy hom wil lei. – Psalms 32:9

Ek lees ’n berig oor veranderinge en skuiwe in die Suid-Afrikaanse politieke landskap. In die onlangse verlede is daar baie gepraat van koalisie politiek en met name een prominente politieke groepering het aangedui dat hulle met gematigdes sal saamwerk. Dit daargelaat. In die artikel skryf die opsteller dat ’n bepaalde saak so ’n gebrek aan lewensvatbaarheid het dat dit is soos om teen die wind te fluit.

Taal is ’n wonderlike gawe en die inhoud wat deur metafore gedra word merkwaardig en kleurvol.

Ek wonder of jy kan fluit? Sommige mense vou daai onderlippies op ’n manier saam en bring ’n skril fluitgeluid na vore. Ander fluit deur twee vingers maar ek kon dit nog nooit regkry nie. My fluitjie is beskeie en skaars hoorbaar.

Ek wonder of jy al probeer fluit het wanneer die wind teen jou aanwaai. Die fluit is skoonveld. Die wind waai dit weg. Dit is nutteloos om te probeer.

Die gesegde het my laat dink aan die wind van God se Gees. Somtyds waai daardie wind van vooraf om ’n koersverandering by ons te weeg te bring. Ons is egter so halsstarrig soos ’n perd wat nie ingebreek kan word nie. Ons weier om ons van koers af te laat dwing vir baie redes. Een daarvan kan wees dat ons in ’n gemaksone is en verandering vrees.

Om jou egter teen God se Gees te verset is soos om teen die wind te blaas. Jou fluitjie is skoonveld. Om te fluit in die rigting wat die Gees waai, is ’n ander saak.

Hoe lank is die Here al met jou besig oor ’n koersverandering in jou lewe?

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.