ToekomsVenster: Genoeg is genoeg!

(Foto: Lara Jameson/Pexels)

“Die Here is my herder, ek kom niks kort nie. Hy laat my rus in groen weivelde. Hy bring my by waters waar daar vrede is.” – Psalm 23:1-2

“Genoeg is genoeg” is ʼn bekende frase wat tydig en ontydig, in ʼn veelheid van kontekste, gebruik word.

Jy sien dit op plakkate en vlae wat tydens protesoptrede rondgeswaai word, jy hoor dit oor die radio in onderhoude wat gevoer word en jy lees koerantopskrifte met daardie woorde om maar ʼn paar kontekste te noem.

Die konteks kan verband hou met ʼn gebrek aan dienslewering, politiese en ekonomiese onrus, morele verval in die samelewing, elektrisiteitsvoorsiening en kragonderbrekings, stygende pryse, haas enige ding onder die son wat irriteer, kan by ʼn plek kom waar mense uitroep: “genoeg is genoeg!”.

Die erns van die sake word nie onderspeel nie. Dit is inderdaad steurend en dra by tot baie frustrasie en verlies. Hoeveel sakeondernemings moes nie al toemaak as gevolg van die onvermoë van Eskom om diens te lewer nie? Dit daar gelaat.

Daar is soveel scenario’s waar ʼn mens dit kan en wil uitroep. Dink maar aan ʼn huwelik wat nie wil vlot nie, kinders wat opstandig is of familie wat onderling twis.

Die lewe is uitdagend en gekompliseerd genoeg, sonder dat daar in jou eie kring ook nog onaangenaamhede bestaan.

Die gevaar is groot dat die uitlating “genoeg is genoeg” net aan ander se adres gerig word. Al die situasies wat sover genoem is, het ʼn adres. Eskom, die regering, die plaaslike supermark of die gemeente. Hulle moet onmiddellik iets doen. Hulle moet verander en hul sake agtermekaar kry.

Toegegee, dit is sekerlik ʼn belangrike deel daarvan, maar wat staan jou te doen? Watter implikasie het “genoeg is genoeg” vir die keuses wat ek en jy maak?

Om maar net by die elektrisiteitskwessie aan te sluit – menige oproepe dat onnodige elektriese toerusting afgeskakel sal word, val op dowe ore. Nie net by ek en jy nie, maar ook die res van Suid-Afrika.

Wat munisipaliteite betref, miljarde rande se uitstaande skuld maak dit vir die diensverskaffer onmoontlik om te werk.

Die onuithoudbare politieke situasie in Suid-Afrika − toe die geleentheid daar was om te stem, het jy verkies om weg te bly.

Jy sien by uitsondering ʼn wit mens by ʼn protesoptrede, of dit geslagsgeweld, misdaad of dienslewering is, om maar ʼn paar te noem.

Ander mense protesteer namens ons.

Jy spandeer op onnodige luukshede, maar kla omdat jou finansies nie die pyp rook nie. Die nuutste selfoon is reeds op bestelling en verskeie stromingsdienste bied die nodige vermaak op jou TV.

Daar is diefstal in jou omgewing, maar jy meld nie aan om by buurtwag betrokke te raak nie.

Die sypaadjies is morsig, maar jy gooi die leë koeldrankblikke, sigaretstompie en papier by die venster uit.

Ekskuus as ek op tone trap, myne kry ook seer omdat ek te veel kla en te min doen.

Genoeg is genoeg.

Wat gaan ons daaromtrent doen?

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

VaalDonkie ·

Mens moet nooit ‘n streep trek as jy nie bereid is om te karate as iemand oor hom trap nie.

Theuns ·

Genoeg is genoeg! Hoekom kan politici en akademiese nie somme doen nie. ? Hoe kan hul 9.9% petrolprys verhoog en stil aanvaar? Net wisselkoers is 5.4% op olie slegs 1.4%. Hoekom vra hul nie hoekom die verhoging dubbel is van kostes nie? Almal.praat oor prys samestelling maar NIEMAND kan ‘n calculator gebruik nie. Hul dra NIKS by met hul geteem sonder om self te verstaan wat aan die gebeur is. Ons het mense met calculators as leiers en kommentators nodig nie swak mense wat nie veel verskil van ander party nie. Mis Zille .

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.