ToekomsVenster: God beskerm jou

(Foto: Kenan Süleymanoğlu/Unsplash)

Jes. 25:4 – U is ‘n toevlug vir die armes, ‘n toevlug vir die behoeftiges in hulle nood, ‘n skuilplek teen die stortbuie, ‘n skaduwee teen die hitte.

Die afgelope tyd se reën is ʼn wonderlike lafenis. Dit is heerlik om wakker te word en die goedheid van God stort op ons neer. Die pragtige vers en die waarhede daarin vervat laat dit voel soos ʼn stortbui genadereën.

Die woorde toevlug, skuilplek en skaduwee, armes, behoeftiges, stortbuite en hitte wil ons iets vertel van die konteks waarbinne die volk van die Here hulle bevind, maar ook hoe God belowe om hulle tegemoet te tree. Ons het almal sulke tye waar ons nodig het om van die uitdagings van elke dag se bestaan te vlug.

Die lewe is egter somtyds ongenaakbaar en amper wreed. Die goed wat mense oorkom laat ʼn mens sprakeloos, net so die goed wat mense mekaar aandoen. Die ongenaakbaarheid waarmee byvoorbeeld die presidentkandidate in die VSA mekaar die stryd aangesê het laat ʼn mens sprakeloos.

Wat bekommer is dat so baie mense Jesus bely en tog, ten spyte van en te midde van, die lewe vir ander baie onaangenaam maak.

In die Israel van ouds is die armes en afhanklikes dikwels aan hul eie lot oorgelaat, in stede daarvan dat in lyn met God se gebod, die weduwees en die wese versorg moes word. Onreg van allerlei aard was aan die orde van die dag. Boonop het die priesters en profete hul verantwoordelikheid versuim om profeties teen hierdie dinge uit te spreek.

Van bo tot onder was die samelewing korrup, ontrou aan God en sonder skaamte. Die pleidooie van die lydendes het die troon van God bereik. Soos in die tyd van Israel se verdrukking in Egipte het die Here gehoor en toegetree. Soos Hy die volk van slawerny verlos het doen Hy ook ten behoewe van die wat aan die kortste end trek. In hierdie geval blyk dit dat Israel as verbondsvolk aan die ontvangkant is. Omliggende volkere onderdruk hulle en maak die lewe ondraaglik.

God beloof om toe te tree en die geweld van die wrede volk, om die profeet se woorde te gebruik, om te keer.

Dit is vreemd dat mense wat weet hoe dit voel om aan die ontvangkant van onreg is dikwels dieselfde aan ander mense doen.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Yvonne ·

Here U is die kenner van mense harte…wees by ons soos U belowe het

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.