ToekomsVenster: Goed dankie, net baie besig!

(Foto: Ann Savchenko/Unsplash)

Ek is seker jy het al gehoor dat mense sê: “goed dankie, net baie besig”.

Om besig te wees, is hoogmode en wie wil nou uit die mode wees?

Besig wees en stres gaan hand aan hand en kommunikeer dat ons darem deel van die post-moderne samelewing is. Ons het nie agtergebly nie, of het ons agtergeraak? Wie te besig is vir dit wat regtig van belang is, is te besig. Punt.

Per geleentheid gaan Jesus tuis by Maria en Martha se huis. Die gebeure is bekend, maar ek gaan dit tog lees omdat ek dit nie beter kan sê as die Bybel self nie.

Wanneer ek dit lees, besef ek dat ek ook soms te besig is en dat die belangriker dinge soms agterweë bly. Dit is egter nie net ons verhouding met God wat skade lei nie. Interpersoonlike en intra-persoonlike verhoudings is eweneens in gedrang.

Nietemin – kom ons lees saam:

“Op hulle reis het Jesus in ʼn dorp gekom waar ʼn vrou, Marta, Hom as gas ontvang het. Sy het ʼn suster gehad, Maria, wat aan die voete van die Here gaan sit en na sy woorde geluister het. Maar Marta was baie bedrywig om alles klaar te maak. Sy kom toe daar staan en sê: ‘Here, hinder dit U nie dat my suster my alleen laat bedien nie? Sê sy moet my kom help!’ Maar die Here antwoord haar: ‘Marta, Marta, jy is besorg en bekommerd oor baie dinge, maar net een ding is nodig. Maria het die beste deel gekies, en dit sal nie van haar weggeneem word nie’.” − Lukas 10:38-42

Kan ek ʼn paar woorde onderstreep:

Jesus maak seker dat Hy Martha se aandag het, daarom noem Hy haar naam twee keer. Dit is asof Hy haar in haar spore wil stuit.

Martha is baie bedrywig.

Martha wil Maria by haar besige skedule betrek. Sy kla eintlik haar suster by Jesus aan in stede daarvan dat sy Maria aanspreek wanneer hulle alleen is.

Die woorde “besorg, bekommerd en baie dinge” wil die rotteresies waarin Martha haar bevind onderstreep. Dalk kan jy daarmee identifiseer?

Net een ding – die Bybel sê immers – “soek allereers die Koninkryk van God en al die ander dinge sal vir jou bygevoeg word”.

Die tydelike, hier en nou se besig wees, is vlugtig.

Ons verhouding met die Vader het ewigheidswaarde en implikasies.

Wat kies jy?

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.