ToekomsVenster: Herlaai jou geestelike lewe

(Foto: Juanita Badenhorst)

“As voetsoldate jou moeg hardloop, hoe sal jy teen perde kan hardloop? En as jy net in ʼn vreedsame land veilig voel, hoe sal jy maak in die digte bos aan die Jordaan? – Jeremia 12:5 (AFR83)

Die horlosie in my studeerkamer staan op 20 voor 11. Gisteraand was daar nog ʼn getik van die laaste batterykrag wat oor was, maar die wysertjies het nie beweeg nie.

Vanoggend is alles doodstil. Die horlosie staan steeds op 20 voor 11. Om die waarheid te sê, die horlosie staan ʼn geruime tyd al op 20 voor 11. Ek het nog net nie die tyd gehad om die battery te vervang nie en omdat dit ʼn horlosie is, verlei dit my elke keer wanneer ek daar verby loop om te kyk hoe laat dit is.

Feit is, die horlosie staan stil. Die krag het opgeraak en die wysers beweeg nie meer nie.

Vir alle praktiese doeleindes herinner die horlosie my aan ʼn era wat was. Op ʼn stadium was dit funksioneel. Nou is dit egter niks meer as ʼn ornament nie. ʼn Horlosie wat nie loop nie het geen doel nie. Dit is ook nie ʼn buitengewoon mooi horlosie sodat ek dit as waardevol sou wou beskou nie.

Ek het ʼn keuse, vervang die battery of gooi die horlosie weg.

Die 20 voor 11-horlosie laat my dink aan die geestelike lewe van mense, trouens nie net geestelike lewe nie, maar hulle bestaan as mens. Daar is mense wie se horlosie spreekwoordelik ophou loop het. Dit het 20 voor 11 geword in hulle lewens.

Op ʼn stadium was daar krag, energie en lewe. Daar was belofte en potensiaal, maar toe het die krag uitgeloop, opgeraak, maar die krisis is nooit aangespreek nie.

Die krisis wat aanleiding gegee het daartoe dat die lewe op 20 voor 11 staan, is ten spyte daarvan dat die horlosie staan nie hanteer nie. Aanvanklik was daar nog ʼn bietjie lewe, maar die “dood” het nou ingetree. Nie fisiese dood nie, geestelik en emosioneel wel.

Die lewe gebeur, daarmee kan ʼn mens nie stry nie. Die lewe is somtyds buitengewoon onvriendelik, selfs onredelik. Goed gebeur wat jy nie verdien nie. Niemand kan dit verhelp nie.

Wat jy egter met die krisis doen, is jou keuse. Dit kan verlammend wees, of dit kan jou so motiveer dat jy die lewe, en die moontlikhede wat dit steeds bied, met albei hande aangryp.

Jy kan die battery van jou lewe herlaai deur by die kruis van Golgota te gaan kniel. Immers, die Heilige Gees is uitgestort. Hy is ons Trooster en Leidsman tot die lewe. Hy weet hoe vorentoe, al kan jy dit nie sien nie.

Wil jy nie vandag besluit om jou lewenshorlosie weer aan die loop te kry nie?

Dit was nou vir te lank 20 voor 11. Dis tyd om weer aan die gang te kom. Die Here sal jou help, maar jy en ek moet begin met ʼn goeie besluit.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.