ToekomsVenster: Hier gaan dit duidelik oor ’n keuse

padwysers-keuses

Foto: Javier Allegue Barros/Unsplash.com

Weet julle nie, julle ontroues, dat vriendskap met die wêreld vyandskap teen God is nie? Wie ‘n vriend van die wêreld wil wees, wys daarmee dat hy ‘n vyand van God is. Of dink julle dat die Skrif sonder rede sê dat God die gees wat Hy in ons laat woon, heeltemal vir Homself wil hê? Maar die genade wat Hy gee, is nog groter. Daarom sê Hy: “God weerstaan hoogmoediges, maar aan nederiges gee Hy genade.” – Jak. 4:4-6

Jakobus op sy vrymoedige beste, nie skaam om dit wat verkeerd is by die naam te noem nie. Natuurlik is sy bedoeling dat sy hoorders en lesers hul sal bekeer van dit wat verkeerd is en na God sal draai. Somtyds moet ʼn mens nie doekies omdraai nie maar die saak by die naam noem. Ons leef in ʼn tyd waar mense se gevoelens broos geword het vir die waarheid. Derhalwe moet die waarheid gedurig in lekkergoed papier toegedraai word anders word die boodskapper gekruisig. In hierdie geval tree die boodskapper namens die Boodskapgewer op. Hy durf dit nie waag om die waarheid te verwater nie.

Hier gaan dit duidelik oor ʼn keuse wat uitgeoefen moet word. Sy hoorders wil klaarblyklik die beste van twee wêrelde hê. Enersyds wil hulle die seën geniet wat God gee maar hulle wil tegelykertyd vashou aan die bedenklike voordele van vriendskap met die wêreld. Wêreld is hier ʼn simbool van die onverskillige wêreld wat God se orde willens en wetens omkeer. Plesier en eiebelang staan voorop.

Ek roep vandag die hemel en die aarde tot getuie teen julle dat ek die lewe en die dood aan jou voorgehou het, die seën en die straf. Kies die lewe, sodat jy en jou nageslag kan lewe. – Deuteronomium 30:19

Dit is een van die dinge waaroor Christene gekritiseer word. Die sogenaamde wêreld is onbeskaamd onverskillig en nie skaam daaroor nie. Hulle leef voluit al is dit vir die verkeerde. Aan die anderkant leef baie Christene oënskynlik vroom en naby aan die Here maar neem vrypostig deel aan die verkeerde optrede en aksies van die wêreld.

Geheime Christene, niemand sou dit raai as dit hulle nie vertel is nie. Ons doen die saak van die Koninkryk groot skade aan deur so te lewe. Jesus sê jy kan nie God en Mammon dien nie.

“Niemand kan vir twee base tegelyk werk nie. Hy sal óf die een minder ag en die ander een hoër, óf vir die een meer oorhê en die ander een afskeep. Julle kan nie God én Mammon dien nie.” – Matteus 6:24

Agter die verleiding van die wêreld staan die geldgod, die meeding met ander, die verbruikersmentaliteit en ingesteldheid, selfsug en eiebelang. Dis tog duidelik dat dit niks anders as vyandskap teen God is nie. Hy roep mense wat sê dat hulle Christene is tot verantwoording.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Maria ·

Hou van stuk ! Opreg! Amen! Ek erken was self daardeur skuldig.
Ons Christene hou van: afgode -selfone “tyd” ,vuil grappe.rondslapery, ens EN hou van: ware woord bybel”tyd”, kerk, bybelstudie ens. Om daaroor te dink …moet kies….

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.