ToekomsVenster: Jou geveg maak ander seer

Foto: Ivan Pergasi/Unsplash.com

Die woorde van die regverdige bring lewe en geluk; agter die mooi woorde van die goddeloses steek daar geweld. – Spreuke 10:11

Die onlangse gebeure met die voortgaande vyandigheid tussen die VSA en Iran is vars in die geheue. Die Amerikaners het dit goed gedink om ʼn hommeltuig moordaanval op ʼn senior amptenaar van Iran te doen. Die gespanne atmosfeer tussen die twee lande het verder eskaleer met Iran se missiele wat op Amerikaanse basisse in Irak afgevuur is. In die heen en weer bakleiery sterf 176 onskuldig passasiers toe ʼn straler deur Iran se missiele getref word. Daaronder kinders en mense van verskillende lande.

Duisende mense se lewens word deur die gebeure geraak en treurendes, wesies en agtergeblewenes moet maar vrede maak dat terwyl leiers mekaar die hare invlieg en hul magsbasisse probeer verstewig. Onskuldige mense moet die prys betaal. Raadskamer besluite het oënskynlik vrede met die trane, worsteling en ongerief wat met hul besluite saamgaan.

Ek is nie bevoeg om die meriete van die VSA se optrede te beoordeel nie en lees dat genoemde amptenaar en leierskap reeds onnoembare skade en lewensverlies veroorsaak het. Dat die Iran leierskap tot verantwoording geroep moes word is waarskynlik so. Geen land kan stilsit en toekyk terwyl jou soewereiniteit en voortbestaan willens en wetens bedreig word nie. In ʼn seker fyn berekende strategiese skuif is besluit om genoemde amptenaar te elimineer om ʼn mooi woord te gebruik. Die res is geskiedenis.

Die gebeure skets die hartseer werklikheid van die prys wat omstanders, familie en gesinslede betaal in die skermutseling wat tussen mense plaasvind. Niemand leef in ʼn kokon nie en ʼn mens kan nie sommer voortstu in jou woede sonder om die impak op ander te verreken nie. Met empatie teenoor die wat in verskillende vorme van afhanklikheid vasgevang is word die selfs vernietigende impak op mense rondom daardie persoon lank reeds erken. In die oor en weer “geskietery” tussen ouers sterf kinders, emosioneel, stukkie vir stukkie. Hulle het nie die vaardigheid om die onmin te verstaan of te verwerk nie.

Dit is selfsugtig om weg te stap van die skade wat jou en my optrede aan ander veroorsaak. Mag ons met groter sensitiwiteit optree. Die volwasse ding om te doen is hulp soek en dit betyds ook.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Scholtz ·

Die gevolgtrekking, “Die volwasse ding om te doen, is hulpsoek …”, is naief. Volwasse volgens watter standaard of riglyn? Iets is reg of verkeerd, nie volwasse of onvolwasse nie. So, die vraag is, wat is die regte ding om te doen. En dit is om jou met die ewige eerste persoon van die ewige drie-enige Godheid, Yahweh, te versoen en dan jou denke in ooreenkoms met sy woord, vervat in die Bybel, aan te pas.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.