ToekomsVenster: ‘Laat my rus in groen weivelde’

(Foto: Michael Block/Pexels)

Ons kuier saam met mekaar rondom die waarhede wat in Psalm 23 gekry kan word. Dit is ʼn kosbare Psalm en het besondere betekenis vir soveel mense.

Wanneer die digter na ons verwys as skape is hy nie besig om ons te komplimenteer nie. Skape is oënskynlik nie baie slim nie, ook nie baie rats nie. Hulle is afhanklik en aangewese op die sorg en die beskerming van iemand wat namens hulle verantwoordelikheid aanvaar.

Wanneer ons dink aan die pragtige ou lammetjies wat ʼn mens wil koester en vashou. Is dit nie heeltemal waarna Psalm 23 verwys nie. Ook in die Nuwe Testament verwys Jesus na ons as skape, met hom as die herder. Die skape ken sy stem en gaan waar Hy hulle lei.

Die goeie herder lei sy skape na ʼn plek van vrede en oorvloed. Die Bybel praat van groen weivelde, waar rus en vrede beleef word.

Wanneer jy vir mense vra wat hulle nodig het, sal baie sê as ek net vrede kan beleef. Selfs al is omstandighede nie ideaal nie, as ek net weet dit het alles sin en betekenis. As ek net weet dat ek nie soos ʼn bootjie op die oseane is wat heen en weer geslaan en geslinger word deur die golwe van die see, sonder dat dit enige sin het nie.

As ek net weet daar is ʼn doel met hierdie omstandighede, dat ek nie alleen daarin vasgevang is nie, dat daar iemand is, groter en sterker en meer vermoënd as ek self, wat saam met my hierdie pad stap. Iemand wat die kontoere waarbinne ek besoek en versoek word vasgestel het.

Groen weivelde te midde van swaarkry, vrede en rus te midde van uitdagings, ook wanneer my krag min geword het.

Meer dikwels is die wekroep van mense se lewe, as ek net weet wat om te doen. Ek is in ʼn krisis en weet nie watter keuses om uit te oefen nie. Ek is so bang ek besluit verkeerd en wat gebeur as ek die verkeerde besluit maak.

Dinge is reeds so negatief, ek kan nie bekostig om weer ʼn keer verkeerd te besluit nie. Is daar ʼn plek waar ʼn mens betroubare raad kan kry?

Die digter sê, God is die bron van alle wysheid. Jakobus nooi sy lesers uit om te midde van kwelvrae na die Here te kom en Hom te vertrou met hulle problematiek.

Dat ons ʼn verantwoordelikheid het om gesond na te dink aan die moontlikhede wat op die tafel is, voordat ons ʼn besluit maak, is inderdaad so. Ons kan nie bekostig om halsoorkop die eerste ding wat in ons gedagtes kom na te jaag nie. Die Here het immers vir ons verstand gegee, die bedoeling is seer sekerlik dat ons dit sal gebruik. Die spreekwoord sê mos: “Gebruik jou gesonde verstand”.

God beloof vrede wat alle verstand te bowe gaan. Die Bybel belowe juis dat vrede ons sal lei in die keuses wat ons moet uitoefen.

Dit gebeur tog wel somtyds dat op papier ʼn bepaalde pad die aangewese blyk te wees, maar dat jy tog in jou gemoed ervaar dat die Here iets anders in gedagte het. Sonder dat dit jou verantwoordelikheid ophef, eer die Here geloofsgehoorsaamheid, selfs al sou baie jou waarsku teen die keuse wat jy gaan uitoefen.

Maar ek wil tog sê, meermale word gesonde nadenke oor moontlikhede bevestig deur die vrede van God in jou hart.

Die digter sê: “Hy lei my op die regte paaie tot die eer van sy naam”. God het inderdaad ʼn belang by die keuses wat sy kinders uitoefen.

Miskien staan jy vandag voor talle uitdagings. Jy word gekonfronteer met verskeie moontlikhede en kan nie bekostig om ʼn verkeerde besluit te maak nie. Vertrou die Here, maar doen jou huiswerk. Praat met ander geloofsgenote, kry hulp, doen navorsing, maak seker dat jy al die gegewens op die tafel het.

Bid dat die Here jou in waarheid sal lei en doen dan wat in jou hart leef.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.