ToekomsVenster: Melkbaard maar pure man

Foto: James Baldwin/Unsplash.com

Maar Timoteus, jy behoort aan God. Daarom moet jy wegvlug van hierdie verkeerde dinge. Jy moet aanhou probeer om dinge te doen wat reg is. Jy moet probeer om vir God te dien, om in Christus te glo, om lief te wees vir mense, om aan te hou om dit te doen en om iemand met ’n sagte hart te wees. – 1 Timoteus 6:11

Ps. 119, die langste Psalm in die Bybel praat met jong gelowiges. Dit moedig hulle aan om met die Bybel as onbetwisbare grondreël die lewe tegemoet te gaan. Die Woord moet in mense, ook jongmense se harte gebêre word. Dit is jammer dat ons nie meer leer om Bybelverse te memoriseer nie. Dit is juis aan hierdie skatte waaraan die Heilige Gees ons herinner wanneer ons met oënskynlik onoorbrugbare uitdagings gekonfronteer word.

Prediker roep jongmense op om vreugde te vind in hul jeugdigheid. Dit is ʼn pragtige aanmoediging vir jongmense om die gawe van jonk wees energiek uit te leef. Ek glo stellig dat rekenskap gegee sal word van verkwiste jonk wees jare. Soveel mense is oud voor hulle tyd.

Die Prediker sê daar kom ʼn tyd wanneer die jare jou inhaal. Hy gebruik derhalwe bewustelik en berekend die woord “voordat”. “Voordat” en “nadat” is verwant.

Moenie dat “nadat” jou onverhoeds vang nie, trouens, dit is tog maar eintlik soos dit gebeur. As jy jou oë uitvee het die jare aangestap.

Gelukkig is die lewe nie verby net omdat jy ietwat ouer is nie. Een opskrif in die media en met verwysing na Jayden Schaper, amateur golfspeler wat onder die voorlopers tel, lui – “jonk en vol pronk”. Die artikel praat van die “laaitjie van die oos rand en melkbaard amateur”, nie om hom te verneder nie maar om te wys op die uitblink vertoning wat hy lewer, sy jeug ten spyt.

Waar is ons jongmense? Sal hulle asseblief opstaan. Die land het julle nodig. Laat die Koninkryk ook hier kom.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.