ToekomsVenster: ’n Veerkragtige jy

Sonneblomme_Colette-Schultz.jpeg

(Foto: Colette Schultz/Maroela Media)

“Dit is nie waar dat die perd die oorwinning gee en dat sy groot krag redding bring nie. Dit is die Here wat sorg vir dié wat Hom eer, vir dié wat op sy mag vertrou.” – Psalm 33:17-18

Die woordjie “resilience” word deesdae dikwels gebruik. President Cyril Ramaphosa hou daarvan om na die Suid-Afrikaanse gemeenskap as veerkragtige mense te verwys.

Ek gesels met Rusty Labuschagne. Hy is ʼn Zimbabwiese burger wat in 2000 vir 15 jaar tronk toe gestuur is vir ʼn moord wat hy nie gepleeg het nie.

Die onmenslike situasie waarin hy aangehou is, kan nie beskryf word nie.

76 mense is saam in ʼn klein sel opgesluit. Geen beddens, komberse of meubels nie. Een stel klere, wat sesmaandeliks omgeruil word. Vuil beddegoed in die mate waarin dit wel beskikbaar mag wees en duisende vlooie wat onophoudelik ongemak veroorsaak. Een toilet, sonder enige privaatheid, vir almal se gebruik.

Gedurende sy gevangenisskap sien hy letterlik duisende mense sterf, meestal van ontbering, honger en selfs weens aanranding ook.

Dat so ʼn mens aan die anderkant van hierdie ervaring hoegenaamd nog leef om sy storie te deel, is amper te goed om waar te wees.

Op een stadium was hy vir twee jaar in alleenopsluiting. 23 uur en 45 minute per dag, sonder om met iemand anders skouer te skuur.

Ek haal moeilik asem as ek na Rusty se getuienis luister.

Hoe het hy oorleef?

Rusty vertel van die vrede van God wat alle verstand te bowe gaan.

Die getuienis van die Heilige Gees dat God nie beheer verloor het nie.

Die wete dat solank daar asem is, die lewe ʼn doel het.

Die krag van vergifnis.

Ons omstandighede, joune waarskynlik ook, kan nie eers begin om te vergelyk met wat Rusty en so baie ander mense deurmaak nie.

Ons kan opstaan, die lewe in die oë kyk en die Here dank vir dit wat rondom ons aangaan.

Ons het bewegingsvryheid, is nie in boeie nie, het genoeg om te eet, word nie aangerand nie, en het genoeg klere om aan te trek.

Veerkragtig deur die Heilige Gees.

Waarom kla ons dan so baie?

Komaan, jy kan weer opstaan.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.