ToekomsVenster: ’n Veilige skuiling

(Foto: Stephan Hauman)

“ʼn Gedig van Dawid. Bewaar my, o God, want by U skuil ek.” – Psalms 16:1

Ons het onlangs na Psalm 16 verwys.

Ek vertrou dat jy nou ook Psalm 16 by jou lys van gunsteling-Psalms sal voeg. Meer korrek behoort al die Psalms, trouens die hele Woord, ʼn spesiale plek in ons lewens te beklee. Ek is seker dit is met jou so. Tog is daar gedeeltes wat ons na aan die hart lê.

Dit is altyd opmerklik dat tydens begrafnisse mense vra dat jy oor ʼn sekere gedeelte praat, omdat dit vir die persoon wat gesterf het besondere betekenis gehad het. Dit geld ook vir liedere. Ek beleef dit dikwels as die laaste boodskap van daardie geliefde aan hulle wat agterbly.

Die Woord het krag en werk in mense se lewens op ʼn kragtige wyse.

Nietemin, Psalm 16 se skrywer, Dawid, betuig sy afhanklikheid van God wanneer hy vra dat die Here hom sal beskerm. Wat presies Dawid se konteks was, is nie bekend nie. Waarmee ons kan identifiseer is die ervaring waarmee Dawid oënskynlik moes deel, een van spanning, onsekerheid, selfs vrees.

Ons maak moeite om ons sekuriteit sover as moontlik in plek te hê, nie waar nie.

As iemand my eiendom roof het ek huis- en ander vorme van versekering.

As ek siek word, is daar voorsiening gemaak sodat ek die nodige mediese sorg kan bekom. Sou ek in ʼn motorongeluk kom, is daar versekering wat my motor kan herstel.

Tog is al hierdie vorme van versekering en sekuriteitstelling, gebrekkig, kosmeties en oppervlakkig. Ten spyte van al hierdie duur ooreenkomste, weet ons dat die beste sekuriteit wat ons kan bekom, die beskerming en trou en teenwoordigheid van die Here is.

Dit beteken nie dat goed nie gebeur nie, ons leef immers nog in hierdie wêreld. Die groter sekuriteit lê in die wete dat wat ook al gebeur, ek en jy aan die Here behoort. Ons name staan geskryf in die Boek van die lewe en van die Lam. Niks en niemand kan ons van Sy liefde skei nie. Vir tyd en ewigheid is ons veilig.

Dit beteken nie dat ons nie moeite moet doen om onsself te beveilig nie. God se beskerming is nie ʼn lisensie vir onverskilligheid nie, maar op die einde van die dag is ek syne en Hy is myne.

Loof die Here daarvoor.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.