ToekomsVenster: Om Hom te vrees

(Foto: Elijah Hiett/Unsplash)

“Die hele aarde moet die Here vrees, al die bewoners van die wêreld moet vir Hom ontsag hê.” – Psalm 33:8 (AFR83)

Ek is besorg oor ons land en laat dit kort-kort deurskemer. Verskoon my daarvoor.

Ek is egter besorg dat ons nie meer met God rekening hou nie. Kortom, ons ken en beleef nie meer die vrees van die Here nie.

Die Bybel sê die vrees van die Here is die begin van wysheid. Uiteraard is hierdie vrees nie soos om bang te wees nie, behalwe as ʼn mens doelbewus en onverskillig met die verkeerde besig is en bly.

Om Hom te vrees beteken, volgens my verstaan, dat ʼn mens met heilige ontsag vervuld sal wees en bly.

Hy is nie ons speelmaat nie. Hy is God, die Almagtige, Alomteenwoordige en Alwetende. Hy is alles wat ons nie is nie. Hy is volmaak en volkome, sonder sonde en sonder letsel.

Ons, daarenteen, is inderdaad beelddraers, maar is beperk, sondig en voorlopig. Eers eendag sal ons soos Hy wees, soos Jesus, sonder sonde en kwaad. Ons bly egter God se skepsels en word nooit God of goddelik nie.

“Die vrees van die Here is die beginsel van die kennis; sotte verag wysheid en tug.” – Spreuke 1:7 (AFR53)

Ons land gaan gebuk onder vele uitdagings. Trouens, uitdagings is ʼn vriendelike en vroom woord vir wat onder die oppervlak aangaan. Ek maak my (weereens) skuldig aan veralgemening, maar ons is te ene male deel van ʼn geheel. Die sonde van die een het betrekking op die res. Dit beïnvloed ons toekoms, ideale, moontlikhede, en dit het ʼn impak op ons kinders en kleinkinders. Ons is met mekaar verbind, of ons dit wil weet of nie.

Die lys van wat verkeerd loop in ons samelewing is eindeloos. Net onverskillige mense leef só. Net mense wat hulle vrees vir die Here verloor het, steur hul nie meer aan God en sy gebod nie. Net mense wat dwaas is reken nie met die dag van rekenskap-gee nie.

“Die vrees van die Here is ʼn fontein van die lewe, om van die strikke van die dood af te wyk.” – Spreuke 14:27 (AFR53)

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Pieter9 ·

Stem saam; Franz Kafka het geskryf ‘ I am free that’s why I am lost’ vryheid sonder ‘vrees’ vir die Here is gevangeneskap.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.