ToekomsVenster: Om meer dankie te sê

Spekboom (Foto: Hans/Pixabay)

“Laat ons wat ʼn onwankelbare koninkryk ontvang het, dan nou dankbaar wees. Laat ons God dankbaar dien met eerbied en ontsag, soos Hy dit wil…” – Hebreërs 12:28

Daar is sulke interessante gegewens op die internet beskikbaar oor die spekboom, of wat ek sal noem – die wonderplant. Spekboom is ook ʼn baie interessante naam.

Ons bekyk dié week die unieke eienskappe van hierdie plant en leer sommer ʼn ietsie oor ons getuienis in hierdie wêreld.

Ek haal van Shamwari.com aan: “Die lae-onderhoud plant kan met so min as 250 – 350 mm water per jaar oorleef! ʼn Spekboom het ʼn fotosintetiese meganisme wat dit toelaat om by alle weerstoestande aan te pas, sodat dit uiterste toestande kan oorleef – van droogte tot ryp.”

In Engels word die woord “low maintenance” gebruik, in Afrikaans vertaal as “lae onderhoud”.

Dit is die term wat my aan die dink het, veral na aanleiding van ʼn mens se jare lange ervaring met jouself en ander mense.

“Lae onderhoud” beteken gewoonweg dat die plant min vra en baie gee. Trouens ʼn mens staan verbaas dat die plant so maklik met sy omgewing omgaan, en so baie kan terugploeg in die wêreld.

“Lae onderhoud”.

Is jy ʼn “lae onderhoud” mens of sal ander mense, veral die naby aan jou, getuig dat jy ʼn mens is wat baie moeilik tevrede gestel word?

Met ander woorde “hoë onderhoud”, alles is verkeerd en niks is reg nie. Jy is altyd aan die verloorkant en maak geen geheim daarvan nie. Ongeag hoe hard mense probeer, is jy altyd ongelukkig en onvergenoegd. Jy skroom ook nie om daaraan uitdrukking te gee nie. Dit is of té min, of té veel, maar nooit ooit genoeg nie. Die woordjie “dankie” is nie ʼn woord wat jy gereeld uitspreek nie. Die frons op jou voorkop getuig van hoe moeilik jy die lewe vind.

Ook jou gebedslewe is een “kla-lysie” aanmekaar.

Ai tog, kan die lewe so moeilik wees wil ek jou vra?

God het sy Seun gegee. Die swaar is verby. Toegegee die lewe het sy uitdagings, maar dit is Goddank nie al wat gebeur nie. Daar is meer as genoeg om oor opgewonde te raak. “Stop en ruik die rose”, lui die bekende spreekwoord in Engels.

Die spekboom vra nie veel nie, kla nie gedurig nie maar lewer sy vrug oorvloedig.

Kan ons nie maar minder kla en meer dankie sê, minder sug en meer lag, minder somber wees en meer getuig van God se goedheid nie.

Kom ons probeer vandag!

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Yvonne ·

Dankie Here maak my meer soos die spekboom……dankbaar en vergenoegd

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.