Lees: 2 Konings 10:1-18
Ons het reeds gesels oor Betroubaar-wees en 2 Timoteus 2:2 saam gelees. Wanneer ʼn mens Spreuke 20:6 lees – “Baie gee te kenne dat hulle getrou is, maar wie kan ʼn werklik betroubare mens vind?” – besef ʼn mens dat baie ouens se fietsies sonder ʼn saal is! Handelinge 13:2 vertel hoedat Barnabas en Saulus vir die Here afgesonder is om die werk te doen waarvoor Hy hulle geroep het. Maar sekerlik, geroep-wees en afgesonder-wees moet “volmaak” gemaak word deur ons betroubaarheid … anders gaan die fietsie nêrens, nie waar nie? Daarom dat Paulus se woorde aan Timoteus (tweede brief, 2:2) treffend bly: “Wat jy my voor baie getuies hoor verkondig het, moet jy toevertrou aan betroubare manne wat bekwaam sal wees om dit ook aan ander te leer.” Nou wat gemaak wanneer jy besef dat jou fietsie soms ʼn saal (betroubaarheid) kort? Galasiërs 5:22 herinner ons gelukkig daaraan dat getrouheid (faithfulness) deel is van die vrug van die Gees, m.a.w. ʼn Christus-karaktereienskap wat die Gees in ons lewe wíl en kán bewerk.
Raak prakties
Ek wonder hoe jou joernaal-inskrywing vandag gaan lyk … het jy al ooit nagedink oor betroubaarheid as ʼn Christus-karaktereienskap wat verder deur sy Gees geslyp en gevorm kan word in jou lewe? Waar het dit al in jou lewe gebeur dat jy teruggedeins het om op die bandwagon te klim, ʼn oomblik waarin betroubaarheid by jou ontbreek het? Wat daarvan dat jy en die Heilige Gees saam ʼn werksessie hieroor hou?
Gebed
Here, hoeveel keer het U al u hand uitgehou na my vir die missie wat in u hart gebrand het, maar was my fietsie sonder saal … het ek nie opgedaag nie, het betroubaarheid by my ontbreek. Jammer, Here. Amen.
- ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za.
Pragtig!