ToekomsVenster: Om soos sout te wees

(Foto: Castorly Stock/Pexels)

“Julle is die sout vir die aarde. Maar as sout verslaan het, hoe kry ʼn mens dit weer sout? Dit is niks meer werd nie. Dit word buitekant weggegooi, en die mense vertrap dit.” – Matteus 5:13

Die bergpredikasie is baie bekend. In hierdie bepaalde gedeelte word die lewe en optrede van kinders van die Here aan die orde gestel. Beide die positiewe en die negatiewe word gestel.

Dit is ʼn interessante gedagte, sout wat verslaan. Ek lees hierdie interessante verduideliking van dr. Isak Burger raak:

“Die gedagte dat sout kan verslaan of ‘laf’ word, soos die 1953-vertaling sê, is dalk vir ons vreemd. In Israel was daar soutblokke wat amper soos rotse uit die grond gesteek het. Dit was nie altyd suiwer sout nie, maar soms vermeng met ander stowwe wat dieselfde wit kleur gehad het. Oor die jare heen het die sout wat in hierdie rotse was opgelos, sodat net die gedeelte wat soos die sout gelyk het oorgebly het. Dit was waarskynlik na hierdie ‘sout’ wat Jesus verwys het”.

Die Boodskap-vertaling help ons ook om die betekenis van hierdie gedeelte beter te verstaan:

“Julle is sout wat smaak moet gee aan hierdie smaaklose wêreld waarin almal in sonde leef. As julle dit nie doen nie, beteken julle net mooi niks vir God nie. Dan kan Hy julle net sowel op die ashoop weggooi.”

Suid-Afrika is ʼn baie deurmekaar plek en die vraag word dikwels gevra waarom ʼn land, waarvan by verre die meeste mense getuig dat hulle Christene is, in so ʼn toestand is?

Het dit dalk enigiets te doen met die onvermoë van Christene om hulle getuienis met energie, oorgawe, entoesiasme en geloof uit te leef?

Is daar ʼn moontlikheid dat kinders van die Here in Suid-Afrika in so ʼn mate soos die res van die wêreld optree, dat hulle nie meer as Christene gekenmerk en herken kan word nie?

Kom ek maak die vraag nog meer prakties.

Weet die mense rondom jou, in jou vriendekring, by die werk, ja selfs in die gemeente, dat jy ʼn oortuigde Christen is?

Getuig jou lewe van kompromieë wat ernstige twyfel oor jou Christenskap teweegbring?

Sal mense wat probleme ervaar jou nader omdat jy ʼn Christen is en hulle bes moontlik sal kan help?

Op Sondag 13 Augustus is daar ʼn dag van verootmoediging en gebed wat deur die NG Kerk georganiseer word. Dit is net wanneer ʼn mens onder oortuiging van die Heilige Gees is dat jy jouself verootmoedig.

Dalk het gelowiges in Suid-Afrika ʼn geleentheid om reg te maak, reg met die Here, en reg met ander.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.