Lees: Jesaja 50:4 en Esegiël 3:15-16
Ons tweede fokus is om pouse te geniet. Baie mense in (ʼn) bediening leef en werk met die denkfout dat hulle hul moet doodwerk vir die Here. Nou gaan ek dit reguit sê: Daar lê geen lof – vir die self of vir die Here – daarin dat sy dienaars/dienaresse hulself werk tot uitbranding nie. Daarom soek ons nie net die Here se teenwoordigheid op om by Hom te leer en te hoor hoe sy hart vir die teikengehoor klop nie, maar ook om verkwik te word (Filemon 1:7). Die Griekse woord vir “verkwik” is anapauó … ek spot sommer altyd deur te sê: ʼn mens hoor sommer die woord “pouse” daarin.
Raak prakties
Markus vertel hoedat Jesus en sy dissipels hulself afgesonder het van bediening om verkwik te word en om dan weer beskikbaar te wees vir bediening. Lees Markus 1:35,40 en kyk of jy die patroon van bedien – afsonder – verkwik – bedien in jou lewe/bediening kan naspeur.
Iets om oor na te dink
Lees weer een keer Psalm 23, maar moet dan nie die woord verkwik in vers 3 (OAV) miskyk nie!
Gebed
Here, ek wil ʼn leerling wees, klas hê by U. Maar Here, ek wil ook pouse by U hê. Verkwik my. Amen.
- ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za.