ToekomsVenster: Onderwerp julle aan die hand van God

man_sonsopkoms_dink_denker_stiltetyd_pixabay.jpg

(Foto: pixabay.com)

Onderwerp julle daarom in nederigheid aan die kragtige hand van God, sodat Hy julle kan verhoog op die tyd wat Hy bestem het. Werp al julle bekommernisse op Hom, want Hy sorg vir julle. – 1 Petrus 5:6-7

Die Boodskap vertaling lees as volg:

Plaas julle hele lewe in die hand van God, in totale afhanklikheid van Hom. Wanneer die tyd daar is, sal Hy julle ’n ereplek by Hom gee. Neem al die dinge waaroor julle julle bekommer of wat julle omkrap na God toe, want Hy self is die Een wat vir julle sorg.

Om jou te onderwerp aan iemand wat jy weet nie goeie bedoelings met jou het nie is uiters onaangenaam en veroorsaak baie spanning. Dit is soos om vir ʼn baas te werk wat nie weet hoe om sy personeel te hanteer nie. Hulle is blote werktuie wat moet sorg dat die werk gedoen word sodat hy die grootste wins kan verkry. Daar is geen verhouding nie en hy huiwer nie om jou sleg te sê en selfs te skel as daar nie aan sy verwagtinge voldoen word nie.

Hoe verskriklik aaklig moet dit nie wees om onder sulke omstandighede te werk nie. Tog gebeur dit.

God deur die Heilige Gees doen dinge gans anders, daaraan hoef niemand te twyfel nie. Daardie vinger wat gedurig beskuldigend na jou wys, daardie innerlike veroordeling, daardie onophoudelike selfverwyt, daardie slapelose nagte oor gister en eergister se mislukkings – nee wat – dit is nie hoe die Here werk nie. Wat dit wel kan wees, is ʼn roepstem na ondersteuning, terapie, begeleiding, toerusting en hulp. Dit is nie nodig om ewig swaar te kry nie. Jesus het nie net gesterf nie, Hy het ook opgestaan.

Dit is nie moeilik om jou aan iemand te “onderwerp” wat jy weet die allerbeste bedoelings met jou het nie. Dit is presies wie God in Christus Jesus is. Die God van die Bybel en die verbond. Die Waarborg van beloftes soos: “Ek weet wat ek vir julle beplan, sê die Here, voorspoed en nie teëspoed nie”.

Die kragtige Hand van God is nie bedoel om jou te boelie of te verniel nie, nee, sy Hand sorg en versorg en reken af met die vyand.

Mag ons vrede beleef in die wete dat God ons beste belange op die hart dra. Gister, vandag en vir altyd.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.