ToekomsVenster: Ons praat oor God

prys_God_natuur_stiltetyd_pixabay.jpg

(Foto: Pixabay.com)

“U, Here, is die Allerhoogste oor die hele aarde, hoog verhewe bo alle gode.” – Psalms 97:9 (AFR83)

Ek gesels met drie teoloë oor God. My vraag is of ons Hom werklik kan ken?

Dit gee aanleiding tot interessante gedagtes en menings. Almal is dit eens; God is veel, oneindig, onvergelykbaar groter as ons verstaan van Hom. Ons sê ons ken Hom, maar dit is voorlopig.

Ons kyk na die hele lewe, ook God, vanuit ons eie verstaanshorisonne. Ons is subjektief by die lewe, en ook by God betrokke, en dit kan nie anders nie. Ons is mense met gevoelens, ervarings, wense en drome, maar ook teleurstellings en negatiewe ervarings.

Iemand wat ʼn negatiewe ervaring met sy aardse pa het, sal na alle waarskynlikheid iets daarvan aan God die Vader toedig. Baie pa’s is so besig dat daar nie tyd vir hul kinders is nie. Nou waarom sou God die Vader tyd hê vir my, word geredeneer.

Sommige pa’s baklei en vind fout. Niks is ooit goed genoeg nie. Dalk is God die Vader ook so. Dit is maar een voorbeeld.

God is inderdaad radikaal anders as enigiemand met wie ons al te doen gehad het. Hy is liefde en sy liefde is so volmaak dat dit elkeen van ons insluit. Met ons foute, ons mislukkings, en ons negatiewe ervarings.

Terug by die vraag of ons Hom kan ken? Nee, nie soos Hy ons ken nie. Hy ken ons deur en deur. Die Bybel sê: “of ek sit en of ek opstaan, U is met al my weë goed bekend.” – Psalm 139.

ʼn Gedagte het nog nie eers by my opgekom nie en die Here weet wat dit gaan wees.

Onverstaanbaar en wonderlik.

Die geloofsreis het dan juis daarmee te maak dat ek God beter en beter wil leer ken, die bietjie wat ek kan ken. Ten einde dit ʼn werklikheid te maak moet ek my besig hou met dinge wat iets met die karakter van God te doen het. Sy Woord is die primêre bron.

As ons dan net ten dele ken, waarom is ons somtyds so arrogant om ander summier af te skryf omdat hulle nie by ons verstaan inpas nie?

Nederigheid is altyd gepas.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Yvonne ·

Dankie Here dat U vir ons lief is al is ons nie volmaak nie…U het ons die moeite werd geag om aan die kruis te sterf vir ons sondes…Amen

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.