ToekomsVenster: Pinkster as ’n eenheid

vriende

(Argieffoto: Pixabay.com)

Johannes 17:21 – Ek bid dat hulle almal een mag wees, net soos U, Vader, in My is en Ek in U, dat hulle ook in Ons mag wees, sodat die wêreld kan glo dat U My gestuur het.

Dit gebeur van tyd tot tyd dat iemand jou misverstaan of hul ore uitleen aan ʼn storie. Die ander persoon kontroleer nie die feite nie maar glo dit wat van jou gesê word blindelings. Sommige praat daaroor maar ander raak net weg. Jy hoor nie weer van hulle nie en wonder wat tog verkeerd kan wees. Pogings om kommunikasie te herstel is onvrugbaar en met tyd gooi jy ook die handdoek in.

Anderdag hoor jy dat die persoon vir jou kwaad is omdat jy dit of dat sou gesê of gedoen het. Dan wonder hoe die persoon met wie jy in ʼn vertrouensverhouding gestaan het so gou anders oor jou kon begin dink. Jy redeneer, ons het baie persoonlike dinge met mekaar gedeel, ons vriendskap het oor jare gegroei, ek was daar vir hom en hy vir my toe dit baie moeilik gegaan het, desnoods, ons het dan saamgebid, hoe is dit dan moontlik dat hierdie persoon hierdie negatiewe rapport oor my sommer so as die waarheid geneem het?

Ek vermoed meer van ons het al sulke ervarings gehad. Inderdaad kan die rolle ook omgekeer wees sodat dit juis ander mense is wat vra hoe ons, ek en jy, sulke skindernuus vir die waarheid kon omarm.

Konteks is so belangrik en dit is dikwels juis die konteks wat verlore gaan en nie oor navraag gedoen word nie. Dit het immers ook in Jesus se lewe gebeur. Hy sou gesê het in drie dae sal ek die tempel afbreek en weer herstel. Die skrifgeleerdes en fariseërs het die feite en bedoeling nie met hom kontroleer nie.

Wat sou sy bedoeling wees met daardie uitspraak?

Om hom ten minste te vra wat hy daarmee bedoel het sou dit die minste wees wat ʼn mens verwag. Ongelukkig doen hulle dit nie en gebruik juis daardie ongetoetste en buite konteks aangehaalde stelling om Hom by die owerhede aan te kla.

Die uiteinde van die saak is aan ons bekend.

Ons mag nie sondermeer die slegte van mekaar glo nie. Veral as mense van diverse agtergronde hier aan die suidpunt van Afrika. Die jare van vervreemding en verwydering het geboorte geskenk aan narratiewe wat nie getoets is nie maar as en vir die waarheid aanvaar is.

Dalk bring Covid-19 ons nader aan mekaar? Dalk luister ons nou anders na mekaar se stories? Dalk ontwikkel ons empatie met mekaar? Dalk en juis dalk, omdat ons almal by die dood omgedraai het, sal ons gesindhede teenoor mekaar verander.

Dit is die gawe van Pinkster 2020.

ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.